Rebekka was kinderloos. Daarom het Isak by die HERE gepleit vir ’n kind. Die HERE het sy gebed verhoor en sy vrou het swanger geword. Die twee kinders het in haar teen mekaar gestamp. Sy het gewonder: “Hoekom gebeur so iets met my?” Sy raadpleeg toe die HERE. Die HERE antwoord haar: “Die twee seuns wat jy verwag, sal twee nasies word wat teen mekaar wedywer. Die een sal sterker wees as die ander. Die nageslag van die oudste sal die nageslag van die jongste dien.” Toe die tyd aanbreek, is die tweeling gebore. Die eerste was by geboorte baie rooierig. Hy was so van die hare oortrek dat dit soos ’n harige kleed gelyk het. Daarom het hulle hom Esau genoem. Sy broer is ná hom gebore terwyl hy die hak van Esau vashou. Toe noem hulle hom Jakob. Isak was 60 jaar oud toe die tweeling gebore is. Die seuns het groter geword. Esau was ’n bekwame jagter, iemand van die veld. Jakob, weer, het verkies om rustig tuis te bly. Isak het ’n voorkeur vir Esau gehad oor die wildsvleis wat hy vir hom gebring het. Rebekka weer, was liewer vir Jakob. Eendag was Jakob besig om sop te kook. Esau het doodmoeg van die veld af teruggekom. Esau sê toe vir Jakob: “Gee my tog van daardie rooi goed, want ek wil doodgaan van die honger.” Dis hoe Esau sy ander naam, Edom – wat “rooi” beteken – gekry het. Jakob antwoord hom: “Dis alles goed en wel, maar dan moet jy jou regte as oudste seun in ruil daarvoor gee.” “Wat maak dit eintlik saak,” antwoord Esau, “ek is tog op die punt om van honger te sterf. Wat beteken my eersgeboortereg dan vir my?” Jakob dring egter daarop aan: “Lê ’n eed af dat jou regte nou myne word.” Esau het toe ’n eed afgelê en so sy eersgeboortereg as oudste aan Jakob, die jongste, verkoop. Toe gee Jakob vir Esau brood en sop. Hy het dit geëet en gedrink en weggegaan asof sy eersgeboortereg vir hom niks beteken nie.
Lees GENESIS 25
Deel
Vergelyk alle weergawes: GENESIS 25:21-34
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's