Eksodus 4:8-17

Eksodus 4:8-17 ABA

Toe sê die Here: “As hulle jou nie glo ná die eerste teken nie, dan sal hulle glo nadat hulle hierdie tweede teken gesien het. As hulle ná hierdie twee tekens nog nie glo nie en nie na jou luister nie, dan moet jy van die water van die Nyl-rivier neem en jy moet dit op die grond uitgooi. Die water wat jy op die grond gooi, sal in bloed verander.” Maar Moses het vir die Here gesê: “Asseblief, Here, ek kan nie goed praat nie. Ek kon nog nooit goed praat nie. Ek kan ook nie beter praat nadat U met my gepraat het nie. Ek praat swaar, my tong sukkel om te praat.” Die Here het vir hom gesê: “Wie het vir die mens 'n mond gegee? Wie maak 'n mens stom of doof? Wie laat hom sien of nie sien nie? Dit is Ek, die Here. Gaan nou, Ek sal jou help om te praat. Ek sal vir jou leer wat om te sê.” Maar Moses het gesê: “Asseblief, Here, stuur iemand anders.” Die Here het toe kwaad geword vir Moses en Hy het gesê: “Die Leviet Aäron is jou broer. Ek weet hy kan goed praat. Hy kom na jou toe, en hy sal bly wees om jou weer te sien. Praat met hom en sê vir hom wat hy moet sê. Ek sal vir jou en vir hom help om te praat en Ek sal vir julle sê wat om te doen. Aäron sal vir die volk sê wat jy vir hulle wil sê. Hy sal praat, en jy moet vir hom sê wat hy moet sê. Jy moet die tekens met hierdie kierie doen. Neem dit saam.”

Video vir Eksodus 4:8-17