Eksodus 24

24
1Die Here het vir Moses gesê: “Kom teen die berg op na My toe, jy en Aäron, Nadab en Abihu en nog 70 leiers van die Israeliete. As julle nog ver van My is, dan moet julle buig. 2Moses, jy moet dan alleen nader kom na My toe. Die ander manne moenie nader kom nie en niemand moet saam met jou opklim nie.”
3Moses het toe gekom en hy het vir die volk alles vertel wat die Here gesê het, al die wette wat Hy gegee het. Al die mense het gesê dit is reg. Hulle het gesê: “Ons sal alles doen wat die Here gesê het.”
4Moses het toe al die woorde van die Here neergeskryf en vroeg die volgende oggend 'n altaar gebou by die voet van die berg. Daar was twaalf gedenkstene, een vir elke stam van die Israeliete. 5Moses het die Israeliete se jongmanne gestuur, en hulle het brand-offers vir die Here gebring. Daar was ook bulle vir ete-offers. 6Moses het die helfte van die bloed geneem en hy het dit in bakke gegooi. Hy het die ander helfte van die bloed teen die kant van die altaar uitgegooi. 7Hy het die boek geneem waarin hy alles geskryf het oor die verbond wat die Here met hulle gemaak het. Hy het dit vir die mense gelees, en hulle het gesê: “Ons sal alles doen wat die Here gesê het, ons sal gehoorsaam wees.”
8Moses neem toe die bloed wat in die bakke was en gooi dit op die mense en sê: “Hierdie bloed bewys dat julle belowe om die verbond te hou wat die Here met julle gemaak het.”
9Moses en Aäron, Nadab en Abihu en 70 leiers van die Israeliete het teen die berg opgegaan. 10Hulle het die God van die Israeliete gesien. Onder sy voete was 'n vloer van saffier. Dit was so blou soos die lug. 11Die Here het nie die leiers van die Israeliete laat sterf nie. Hulle het God gesien en toe het hulle geëet en gedrink. 12Die Here het vir Moses gesê: “Kom teen die berg op na My toe en wag hier. Ek sal vir jou die plat klippe gee waarop Ek die wette geskryf het. Jy moet dit vir die mense leer.”
13Moses en Josua, sy helper, het toe gereedgemaak en Moses het opgegaan teen die berg van God. 14Hy het vir die leiers gesê: “Wag hier vir ons totdat ons terugkom na julle toe. Aäron en Hur is by julle. As iemand 'n probleem het, dan moet hy na Aäron en Hur toe gaan.”
15Moses het teen die berg opgegaan, en 'n wolk het oor die hele berg gekom. 16Die lig wat om die Here, die Koning, is wanneer Hy verskyn, was op Sinai-berg, en die wolk was ses dae lank oor die berg. Op die sewende dag het die Here uit die wolk vir Moses geroep. 17Dit het vir die Israeliete gelyk soos 'n groot vuur bo-op die berg. 18Moses het ingegaan in die wolk en hy het opgegaan teen die berg. Moses was 40 dae en 40 nagte op die berg.

Tans Gekies:

Eksodus 24: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid