Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet elke oudste seun van die Israeliete vir My gee. Die oudste seun van die mense en ook die eerste manlike kleintjie van al die diere behoort aan My.” Moses het vir die volk gesê: “Julle moet altyd hierdie dag onthou, die dag toe julle weggegaan het uit Egipte. Julle was hier slawe, maar die Here het julle met sy groot krag gehelp om weg te gaan van hier. Daarom mag julle in hierdie tyd nie brood eet waarin daar suurdeeg is nie. Julle gaan vandag weg, in die maand Abib. Die Here sal julle bring na die land van die Kanaäniete en die Hetiete en die Amoriete en die Hewiete en die Jebusiete. Hy het vir julle voorvaders belowe dat Hy daardie land vir julle sal gee. Dit is 'n land waar daar baie melk en heuning is. As julle daar kom, dan moet julle elke jaar in hierdie maand die fees vier. Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet, en op die sewende dag moet julle 'n fees vier om die Here te eer. Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet en julle mag nie brood by julle hê wat suurdeeg in het nie. Daar mag nie suurdeeg by julle wees nie. Op hierdie dag moet julle vir julle kinders vertel: ‘Ons vier hierdie fees omdat die Here ons gehelp het toe ons weggegaan het uit Egipte.’ Die fees moet julle help om te onthou wat die Here vir julle gedoen het. Dit moet wees soos 'n teken op julle hand en tussen julle oë, sodat julle altyd kan onthou en vertel wat die Here vir julle geleer het. Dit is die Here wat julle met sy groot krag gehelp het om uit Egipte weg te gaan. Julle moet elke jaar hierdie tyd die Paasfees vier. Die Here sal julle na die land Kanaän bring. Hy het dit vir julle en julle voorvaders belowe. Wanneer Hy die land vir julle gee, dan moet julle elke oudste seun wat gebore word in 'n familie, vir die Here gee. Julle moet ook die eerste manlike kleintjie van elke dier vir die Here gee. Hulle behoort almal aan die Here. Maar 'n donkie se eerste hings-vul moet julle loskoop. Julle moet 'n skaap of 'n bok gee in die plek van 'n donkie. As julle nie die donkie-vul loskoop nie, dan moet julle sy nek breek. Julle moet ook julle oudste seuns loskoop, julle moet iets anders in hulle plek gee. As julle kinders later vir julle vra wat dit beteken, dan moet julle vir hulle sê: ‘Die Here het ons met sy groot krag uit Egipte gered, daar waar ons slawe was. Die farao was hardkoppig. Hy het gesê ons mag nie weggaan nie. Toe het die Here al die oudste seuns in Egipte doodgemaak, die oudstes van die mense en van die diere. Daarom offer ons die eerste bul-kalf en die eerste ram-lam vir die Here, en daarom gee ons iets anders in die plek van ons oudste seuns. Dit moet soos 'n teken wees op julle hande en tussen julle oë, sodat julle kan onthou dat die Here ons met sy groot krag gehelp het om weg te gaan uit Egipte.’ ”
Lees Eksodus 13
Deel
Vergelyk alle weergawes: Eksodus 13:1-16
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's