Efesiërs 6:10-18

Efesiërs 6:10-18 ABA

Ek wil vir julle nog één ding sê: Julle behoort aan die Here. Hy is baie sterk, Hy sal vir julle sy krag gee, en julle moet sterk wees. Julle moet alles gebruik wat God vir julle gee om aan te hou oorlog maak teen die duiwel. Hy maak baie skelm planne teen julle. Ons veg nie teen mense nie, ons veg teen bose geeste en hulle leiers. Die mense van die wêreld luister na geeste, maar ons veg teen slegte geeste in die lug. Daarom moet julle soos soldate al die klere en wapens gebruik wat God vir julle gee. As julle dit doen, dan sal julle kan veg wanneer die slegte dag kom en die oorlog begin, en wanneer die oorlog verby is, dan sal julle nog staan. Julle moet vas staan. Julle moet die waarheid praat. Dit is soos die belt om 'n soldaat se heupe. Julle moet altyd doen wat reg is. Dit is soos die harnas van 'n soldaat. Julle moet die goeie boodskap ken en glo, die boodskap dat God vir ons vrede gee. Dit is soos 'n soldaat se skoene. Julle moet aanhou om in Christus te glo. Dit is soos wanneer 'n soldaat 'n skild neem om hom te beskerm, dit keer die brandpyle waarmee die duiwel julle wil skiet. God het julle gered en julle moet dit aanvaar. Dit is soos die helm op 'n soldaat se kop. God praat met julle. Ja, die Heilige Gees sê vir julle wat God sê. Dit is soos die swaard waarmee 'n soldaat veg. Julle moet altyd luister na die Heilige Gees en dan moet julle bid, julle moet vir God vra wat julle nodig het. Ja, julle moet altyd gereed wees en aanhou bid vir al God se mense.