Ek, Paulus, is 'n apostel van Christus Jesus omdat God dit wil hê. Ek en Timoteus, ons vriend, skryf hierdie brief vir julle daar in die stad Kolosse. Vriende, julle behoort aan God, julle glo in Christus en julle behoort ook aan Hom. Ons bid dat God ons Vader genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle vrede sal gee.
Ons bid baie vir julle, en dan sê ons elke maal dankie vir God, die Vader van ons Here Jesus Christus, want ons het gehoor dat julle in Christus Jesus glo en dat julle lief is vir al die ander mense wat aan God behoort. Julle glo en julle weet wat God vir julle in die hemel gebêre het. Julle het daarvan gehoor toe julle die goeie boodskap gehoor het, die boodskap wat waar is. Meer en meer mense hoor die goeie boodskap en hulle doen dan wat God wil hê. Julle ook, julle het die goeie boodskap gehoor en julle het besef dat God baie goed is. Epafras het vir julle vertel dat God baie goed is. Epafras werk saam met my, en ek is lief vir hom en ek weet hy doen altyd sy werk baie goed. Hy werk vir Christus daar by julle. Hy het ook vir ons vertel dat die Heilige Gees julle help om lief te wees vir mekaar.
Vandat ons gehoor het wat Epafras vir ons gesê het, bid ons elke dag vir julle. Ons bid en vra dat julle sal weet wat God wil hê julle moet doen. Ons bid dat die Heilige Gees vir julle sal help om te verstaan wat God wil hê julle moet doen. Dan sal julle so lewe dat die Here altyd tevrede sal wees met julle. Julle sal dinge doen waarvan Hy hou, baie goeie dinge, en julle sal vir God beter en beter leer ken. Hy, die Koning, is baie sterk en Hy sal julle geloof sterk maak. Dan sal julle kan aanhou om geduldig te wees wanneer julle swaarkry. En julle sal bly wees en vir God die Vader dankie sê, want Hy het julle verander. Hy het vir almal wat aan Hom behoort, belowe dat hulle in die hemel by Hom sal wees. Julle sal ook in die hemel by Hom wees. God die Vader het ons gered van die duiwel en nou weet ons dat sy Seun ons Koning is, sy Seun vir wie Hy baie lief is. Ja, God het sy Seun gestuur en die Seun het ons vrygemaak. So het God ons sondes vergewe.
Niemand kan vir God sien nie, maar God se Seun het vir ons kom wys hoe God is. Die Seun is die Eerste, die belangrikste van alles in die hemel en op die aarde, want Hy het alles gemaak, God het gesê Hy moet dit doen. Die Seun het alles in die hemel en alles op die aarde gemaak, alles wat 'n mens kan sien en alles wat 'n mens nie kan sien nie, almal en alles wat oor die wêreld wil regeer, in die hemel en op die aarde. Die Seun het hulle almal gemaak, en hulle is daar om Hom te respekteer en te dien. Die Seun was daar voordat daar iets anders was en Hy laat alles lewe. Die kerk is die Seun se liggaam, Hy is die Hoof van die kerk, en Hy laat die kerk lewe. Hy is die Eerste, die Een wat dood was en wat weer lewe, en daarom is Hy nou die belangrikste van almal en alles. Hy, die Seun, is God en Hy kan doen soos God doen, omdat God besluit het om in die Seun te woon. Die Seun het aan die kruis gesterf, en so het God vrede gebring. So het God almal se sonde weggeneem, almal op die aarde en almal in die hemel. God het dit gedoen sodat alles reg kan wees tussen God en hulle.