Amos 8:1-14

Amos 8:1-14 ABA

Die Here het vir my gewys wat Hy wil doen. Daar was 'n mandjie vrugte, en die Here het vir my gevra: “Amos, wat sien jy?” Toe sê ek: “Ek sien 'n mandjie vrugte. Hulle is ryp en dit is tyd om hulle te eet.” Die Here het toe vir my gesê: “Dit is nou die tyd. Ek sal my volk, die Israeliete, se sonde nie weer vergewe nie. Wanneer Ek kom om hulle te straf, dan sal die mense in die koning se paleis nie meer sing nie, hulle sal huil. Daar sal baie lyke wees. Die vyande sal nie praat nie, hulle sal die lyke oral op die grond gooi. “Luister na wat Ek sê. Julle doen slegte dinge aan die arm mense, julle wil die mense wat niks het nie, doodmaak. Julle sê: ‘Wanneer is die Nuwemaan-fees verby? Dan kan ons weer koring verkoop. Wanneer is die Sabbatdag verby? Dan kan ons weer ons koringwinkels oopmaak en skelm wees. Wanneer ons die koring weeg, dan sal ons die mense te veel laat betaal.’ Julle verkoop ook die koring se kaf en julle verkoop arm mense omdat hulle geld skuld vir 'n paar sandale. Dan word die mense slawe.” Die Here het belowe, en Hy is self die getuie. Hy is God. Die Israeliete moet Hom eer. Hy het gesê: “Ek sal altyd onthou wat julle gedoen het. Die mense van die land sal bang word hieroor en bewe. Almal wat hier woon, sal huil en treur. Al die mense in die land sal skrik en wegvlug soos die water in die Nyl-rivier wat vol word en wegloop.” Die Here sê: “Op daardie dag sal Ek die son in die middel van die dag laat ondergaan. Ek sal dit donker maak op die aarde wanneer dit nog dag is. Ek sal alles verander. Julle sal nie feesvier nie, julle sal treur. Julle sal nie sing nie, julle sal huil oor almal wat dood is. Julle sal rouklere aantrek en julle koppe kaal skeer. Julle sal rou soos iemand wat rou oor sy enigste kind wat dood is. Dit sal vir julle 'n baie slegte dag word.” Die Here het gesê: “Daar sal 'n tyd kom wanneer Ek almal in die land honger sal maak. Maar hulle sal nie honger wees vir kos of dors wees vir water nie. Hulle sal honger wees vir die woorde van die Here. Hulle sal soek van die een see tot by die ander see. Hulle sal oral soek, van die noorde tot by die ooste, om te hoor wat die Here sê, maar hulle sal niks hoor nie. Mooi meisies en jongmans sal daardie dag baie dors word en flou val. Wanneer hulle iets belowe het, dan het hulle altyd gesê: ‘Die afgod van Samaria is die getuie,’ of hulle het vir die stad Dan gesê: ‘So seker soos jou god lewe!’ of: ‘So seker soos daar 'n pad is na die stad Berseba!’ Maar hulle sal val, hulle sal nie weer opstaan nie.”