2 Samuel 20:14-26

2 Samuel 20:14-26 ABA

Seba het die manne van al die stamme van Israel met hom saamgeneem na die stad Abel-Bet-Maäka. Al die manne van die Beker-familie het ook bymekaargekom en hulle het saam met hom gegaan. Joab en die ander manne het die stad aangeval van al die kante. Hulle het 'n grondwal teen die muur van die stad gebou en al die manne by Joab het begin om die muur van die stad af te breek. Daar was 'n slim vrou in die stad, sy het geskree: “Luister, luister na my! Sê asseblief vir Joab hy moet nader kom hiernatoe, ek wil met hom praat.” Toe Joab nader kom, het die vrou gevra: “Is jy Joab?” En Joab het gesê: “Ja, ek is.” Sy sê toe vir hom: “Luister na wat ek sê.” En hy het gesê: “Goed, ek luister.” Die vrou het gesê: “Die mense het voorheen altyd gesê: ‘Vra vir iemand in die stad Abel,’ en dan het hulle geweet wat om te doen. Ek is een van die baie mense in die land Israel wat vrede wil hê en ek wil gehoorsaam wees aan die koning. Hoekom wil jy die mense van hierdie belangrike stad doodmaak? Dit is 'n stad wat aan die Here behoort, hoekom wil jy dit verwoes?” Joab het geantwoord: “Nee, ek wil glad nie die stad verwoes en sy mense doodmaak nie. Dit is nie wat ek wil doen nie. Maar iemand van die Efraim-berge het opstandig geword teen die koning, teen Dawid. Sy naam is Seba seun van Bikri. Gee hom vir ons, dan sal ons weggaan van die stad.” Die vrou het vir Joab gesê: “Goed, ons sal sy kop vir jou oor die muur gooi.” Die vrou het na al die manne in die stad gegaan en sy het vir hulle gesê wat sy dink hulle moet doen. Hulle het toe die kop van Seba seun van Bikri afgekap en hulle het dit vir Joab gegooi. Joab het die ramshoring geblaas en hy en sy manne het weggegaan van die stad, elkeen na sy huis. Joab het teruggegaan na Jerusalem, na die koning toe. Joab was die hoof van die hele leër van Israel. Benaja seun van Jojada was die hoof van die manne wat die koning opgepas het. Adoram was die hoof van die mense wat vir die koning moes werk. Josafat seun van Agilud was die hoof van die amptenare. Seja was die sekretaris, en Sadok en Abjatar was die priesters. Ira van die stad Jaïr was ook 'n priester van Dawid.