Die profeet Elisa het een van die profete geroep en vir hom gesê: “Jy moet jou klere vasmaak en hierdie kruikie olyf-olie neem en na die stad Ramot in die land Gilead gaan. Wanneer jy daar kom en jy sien vir Jehu seun van Josafat seun van Nimsi, dan moet jy vir hom sê hy moet daar uitkom, weg van die ander offisiere, en jy moet hom alleen na 'n kamer neem. Dan moet jy die kruikie olyf-olie op sy kop uitgooi en jy moet sê: ‘Die Here sê Hy salf jou om koning te wees van Israel.’ Dan moet jy die deur oopmaak en dadelik weggaan.” Die jongman, die profeet, het na Ramot in Gilead gegaan, en toe hy daar kom, sien hy die offisiere daar sit. Hy het vir Jehu gesê: “Offisier, ek het 'n boodskap vir jou.” Jehu vra toe: “Vir wie van ons is die boodskap?” Die profeet antwoord toe: “Die boodskap is vir jóú, Offisier.” Jehu het opgestaan en in die huis ingegaan, en die profeet het die olyf-olie op sy kop uitgegooi en vir hom gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: Ek salf jou om koning te wees van my volk Israel. Jy moet die familie van jou koning Agab doodmaak. Ek wil hulle straf omdat Isebel my dienaars die profete en al my ander dienaars vermoor het. Die familie van Agab sal almal sterf. Ek sal die mans en die seuns van die familie van Agab almal laat doodmaak, elkeen in die land Israel, almal wat getroud is of wat nie getroud is nie. Ek sal met die familie van koning Agab doen soos Ek gedoen het met die familie van koning Jerobeam seun van Nebat en met die familie van koning Baesa seun van Agija. Die honde sal vir Isebel opvreet by die stad Jisreël, niemand sal haar begrawe nie.” Nadat die profeet hierdie boodskap vir Jehu gebring het, het hy die deur oopgemaak en vinnig weggegaan. Jehu het uitgegaan na die offisiere van sy koning toe, en een offisier het vir hom gevra: “Is daar 'n probleem? Hoekom het daardie mal man na jou toe gekom?” Jehu het vir hulle gesê: “Julle weet self hoe daardie man praat.” Maar die ander offisiere het gesê: “Nee, jy jok, vertel vir ons wat hy gesê het.” En toe sê Jehu: “Die profeet het vir my gesê die Here sê Hy salf my om koning te wees van Israel.” Toe trek die offisiere dadelik hulle klere uit en hulle gooi dit op die trappe oop voor Jehu en hulle blaas die ramshoring en hulle skree: “Jehu het koning geword!”
Lees 2 Konings 9
Deel
Vergelyk alle weergawes: 2 Konings 9:1-13
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's