2 Konings 21
21
Manasse, koning van Juda
(Kyk ook 2 Kron 33:1-20)
1Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het en hy was 55 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Gefsiba. 2Manasse het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, die slegte dinge wat die ander volke gedoen het. Die Here het daardie volke weggejaag sodat die Israeliete daar kan woon. 3Manasse het die offer-plekke weer gebou wat sy pa Hiskia afgebreek het. Hy het altare gebou vir Baäl en hy het 'n gewyde paal gemaak soos die paal wat koning Agab van Israel gemaak het. Manasse het gebuig vir die son en die maan en al die sterre in die lug, en hy het hulle gedien. 4Hy het vir hulle altare gebou by die tempel. Die Here het voorheen van hierdie tempel gesê: “Hier in Jerusalem wil Ek woon.”
5Manasse het op die twee oop stukke grond by die tempel altare gebou vir die son en die maan en al die sterre in die lug. 6Hy het sy seun verbrand en hy het gesê hy kan tekens sien en hy kan sê wat sal gebeur. Hy het ook gesê hy kan praat met die geeste van mense wat gesterf het, en hy weet wat ander mense nie kan weet nie. Manasse het baie dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie en hy het die Here kwaad gemaak. 7Manasse het 'n beeld van Asjera gemaak en hy het dit in die tempel gesit. Die Here het voorheen vir Dawid en sy seun Salomo oor hierdie tempel gesê: “Ek wil altyd woon in hierdie tempel en in Jerusalem. Ek het Jerusalem gekies uit die stede van al die stamme van Israel. 8Ek sal die Israeliete nie weer laat wegjaag van die grond wat Ek vir hulle voorvaders gegee het nie, maar dan moet hulle seker maak dat hulle alles doen wat Ek vir hulle gesê het en wat my dienaar Moses vir hulle gesê het in sy wette.”
9Maar die mense van Juda het nie geluister nie. Manasse het hulle verlei om slegte dinge te doen. Hulle het slegter dinge gedoen as die ander volke. Die Here het daardie volke weggejaag sodat die Israeliete in die land kan woon. 10Die Here het sy dienaars die profete gestuur en gesê: 11“Koning Manasse van Juda het hierdie slegte dinge gedoen. Die Amoriete wat voorheen in die land was, het slegte dinge gedoen, maar Manasse het slegter dinge gedoen as die Amoriete. Hy het die mense van Juda ook sonde laat doen met sy afgode. 12Daarom, sê die Here die God van Israel, sal Ek dit nou so sleg laat gaan met Jerusalem en Juda dat elkeen wat daarvan hoor, baie geskok sal wees. 13Ek sal dit met Jerusalem laat gaan soos met Samaria en met die koningshuis van Agab. Ek sal Jerusalem skoonvee soos 'n mens 'n skottel skoonvee en dit omdraai. 14Ek gooi die mense weg wat nog oorgebly het van my volk. Ek gee hulle vir hulle vyande. Al hulle vyande sal hulle vang en wegvat wanneer hulle wil. 15Ek doen dit omdat hulle dinge gedoen het waarvan Ek nie hou nie. Hulle het My kwaad gemaak van die dag toe hulle voorvaders uit Egipte gekom het tot vandag toe.” 16En ook, Manasse het onskuldige mense laat doodmaak, hy het hulle bloed laat vloei totdat Jerusalem vol bloed was van die een kant tot by die ander kant. Hy het ook die mense van Juda sonde laat doen, hulle het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie.
17Al die ander dinge wat Manasse gedoen het, en die sondes wat hy gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. 18Manasse het gesterf, en sy mense het hom begrawe in die tuin van sy paleis, die tuin van Ussa. Sy seun Amon het koning geword ná hom.
Amon, koning van Juda
(Kyk ook 2 Kron 33:21-25)
19Amon was 22 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was twee jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Mesullemet dogter van Garus, van die stad Jotba. 20Amon het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het gedoen soos sy pa Manasse gedoen het. 21Hy het gelewe soos sy pa. Hy het die afgode gedien wat sy pa gedien het en hy het vir hulle gebuig. 22Hy het nie meer die Here, die God van sy voorvaders, gedien nie, hy het nie gedoen wat die Here wil hê nie. 23 Amptenare van Amon het planne gemaak teen hom en hulle het die koning in sy paleis vermoor. 24Die mense van die land het die amptenare doodgemaak wat vir Amon vermoor het, en toe het die mense van die land vir Josia seun van Amon koning gemaak ná hom.
25Al die ander dinge wat Amon gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. 26Sy mense het hom begrawe in sy graf in die tuin van Ussa. Sy seun Josia het koning geword ná hom.
Tans Gekies:
2 Konings 21: ABA
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.