2 Kronieke 9

9
Die koningin van Skeba kom na Salomo toe
(Kyk ook 1 Kon 10:1-13)
1Die koningin van die land Skeba het gehoor dat die mense oor Salomo praat, en sy het gekom om te hoor of hy regtig so baie wysheid het. Sy het na Jerusalem gekom, en daar was baie mense saam met haar, ook kamele wat speserye en baie goud en duur edelstene gedra het. Sy het na Salomo toe gekom en sy het vir hom alles gevra wat sy wou vra. 2Koning Salomo het geweet hoe om alles te antwoord wat sy gevra het. Daar was nie een vraag wat vir hom te moeilik was nie. 3-4Toe die koningin van Skeba alles hoor wat hy sê en toe sy alles sien, was sy baie verbaas oor Salomo se wysheid. Sy het die tempel gesien wat hy gebou het, ook die kos op sy tafel en sy amptenare wat by die tafel sit, sy bediendes wat daar staan, die klere wat hulle aangetrek het, die manne wat wyn in die bekers gooi en die klere wat hulle aangetrek het, en sy het ook gesien hoe Salomo opgegaan het na die tempel. 5Sy het vir die koning gesê: “Ek het in my land gehoor van die dinge wat jy alles doen en ek het gehoor van jou wysheid. Dit is alles waar. 6Ek het dit nie geglo nie, maar nou het ek gekom en ek het dit self gesien. En regtig, ek het nog nie alles gehoor nie, ek het minder as die helfte gehoor. Jy is 'n wyse man, en jy is baie ryk. Mense het my vertel dat jy ryk is, maar jy is baie ryker. 7Die manne wat vir jou werk en wat altyd by jou is, is gelukkige mense, want hulle kan luister na die wyse dinge wat jy sê. 8Ek prys jou God die Here wat so baie van jou hou dat Hy jou op sy troon laat sit. Jou God die Here self het jou koning laat word. Jou God het dit gedoen omdat Hy lief is vir Israel. Hy het jou koning laat word oor hulle, sodat jy reg kan doen en regverdig kan wees.”
9Die koningin van Skeba het vir koning Salomo 120 talente goud gegee en baie speserye en edelstene. Daar was nooit weer so baie speserye in die land Israel soos die speserye wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het nie. 10Die manne van Hiram en die manne van Salomo wat goud in Ofir gaan haal het, het ook jenewerhout en edelstene saamgebring. 11Die koning het die jenewerhout gebruik om tralies te maak in die tempel en in die paleis en ook om liere en harpe te maak vir die mense wat moes sing. Niemand het weer in die land Juda hout gesien wat so mooi is nie. 12Koning Salomo het vir die koningin van Skeba alles gegee wat sy wou hê, hy het alles gegee wat sy gevra het. Dit was meer as die goed wat sy vir die koning gebring het. Sy en haar amptenare het toe teruggegaan na haar land.
Salomo was ryk en belangrik
(Kyk ook 1 Kon 10:14-29)
13Salomo het elke jaar 666 talente goud gekry. 14Hy het ook nog goud en silwer gekry van die mense wat deur sy land gegaan het, en van die handelaars en van al die konings van Arabië en van die goewerneurs in die land Israel. 15Koning Salomo het 200 groot skilde laat maak van goudplate. Hulle het 600 sikkels goud vir elke skild gebruik. 16Hy het ook 300 klein skilde laat maak van goudplate. Hulle het 300 sikkels goud vir elke skild gebruik. Die koning het die skilde in die houthuis gesit.
17Hy het ook 'n groot troon laat maak van ivoor en hy het dit laat toemaak met skoon goud. 18Die troon het ses trappe gehad, en 'n voetbank van goud was vas aan die troon. Daar was plekke waar die koning se arms kon rus op altwee kante van die sitplek, en daar was 'n beeld van 'n leeu langs elke kant. 19Langs altwee kante van die ses trappe het twaalf beelde van leeus gestaan. Daar was nie in 'n ander land so 'n mooi troon nie.
20Al die bekers waaruit koning Salomo gedrink het, was van goud, en in die houthuis was al die bekers van skoon goud. In die tyd toe Salomo gelewe het, was silwer nie belangrik nie.
21Die koning se skepe het saam met die manne van Hiram na die land Tarsis gegaan. Die skepe het elke drie jaar goud en silwer, ivoor, ape en bobbejane gebring.
22Koning Salomo het ryker geword as al die konings van die aarde en hy het meer wysheid gehad as hulle. 23Al die konings van die aarde het gekom om vir Salomo te sien en om te luister na sy wysheid, die wysheid wat God vir hom gegee het. 24Die mense het almal presente saamgebring. Dit was silwergoed of goue goed of klere of wapens of speserye of perde of muile. Dit het elke jaar gebeur. 25Salomo het 4 000 stalle vir sy perde en oorlogkarre gehad en hy het 12 000 ryperde gehad. Hy het party perde in die stede laat bly om die oorlogkarre te trek en hy het party perde by hom in Jerusalem laat bly. 26Koning Salomo het regeer oor al die konings tussen die Eufraat-rivier en die land van die Filistyne en die grens van die land Egipte. 27Salomo het so baie silwer gehad soos die klippe in Jerusalem en so baie sederhout soos die wildevyebome in die Laeveld. 28Salomo het perde laat kom uit Egipte en uit al die lande.
Salomo sterf
(Kyk ook 1 Kon 11:41-43)
29Die ander dinge wat Salomo voorheen en later gedoen het, is geskryf in hierdie boeke: die Geskiedenis van die Profeet Natan, die Boodskappe van Agija van Silo en die Dinge wat die Siener Iddo gesien het en geskryf het oor Jerobeam seun van Nebat. 30Salomo was 40 jaar lank koning in Jerusalem oor die hele Israel. 31Salomo het gesterf, en hulle het hom begrawe in die stad van sy pa Dawid. Salomo se seun Rehabeam het koning geword ná Salomo.

Tans Gekies:

2 Kronieke 9: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid