2 Kronieke 31

31
1Nadat hulle klaar feesgevier het, het al die Israeliete wat daar was, gegaan na die stede van Juda. Hulle het die klip-pale afgebreek en die gewyde pale afgekap en hulle het die offer-plekke en die altare afgebreek in die hele land Juda en Benjamin, en ook in die land Efraim en die land Manasse. Dit was die plekke waar mense vir ander gode ge-offer het. Niks het oorgebly van daardie plekke nie. Daarna het al die Israeliete teruggegaan na hulle stede, elkeen na sy eie grond.
Koning Hiskia sê hoe die priesters en die Leviete moet werk
2Hiskia het die priesters en Leviete in groepe gedeel, elke groep het die werk gekry wat hy moes doen. Die priesters moes brand-offers en ete-offers offer, en die Leviete moes vir hulle help werk. Hulle moes ook vir die Here dankie sê en Hom prys in die poorte van die tempel van die Here. 3Die koning het van sy eie goed gegee vir die brand-offers. Dit was die brand-offers wat hulle in die oggend en in die aand gebring het, die brand-offers op die Nuwemaan-feeste en die ander feeste. Hulle het dit gedoen soos dit in die Wette van Moses geskryf is. 4Hiskia het vir die mense wat in Jerusalem woon, gesê hulle moet vir die priesters en die Leviete alles gee wat hulle nodig het, sodat die priesters en die Leviete kan aanhou om te doen wat die Here wil hê. 5Toe die Israeliete hoor wat hulle moet doen, het hulle die eerste koring gebring wat hulle afgesny het, en ook die eerste wyn en olyf-olie en heuning, die eerste van alles wat hulle uit die grond gekry het. Dit was baie. Hulle het ook die tiendes gebring van alles wat hulle gehad het, en dit was ook baie. 6Die Israeliete en die Judeërs wat in die stede van Juda gewoon het, het ook die tiende van hulle beeste en hulle skape en bokke gebring en die tiende van die goed wat hulle aan hulle God die Here gewy het. Hulle het die goed neergesit, hulle het hope gemaak daarvan. 7Hulle het in die derde maand begin om die hope te maak van al die goed en hulle het dit gedoen tot die sewende maand. 8Toe Hiskia en die amptenare kom en hulle sien al die hope goed, het hulle die Here en sy volk Israel geprys. 9Hiskia het vir die priesters en die Leviete gevra van waar al die hope goed kom. 10Die hoëpriester Asarja was van die Sadok-familie. Hy het vir Hiskia gesê: “Vandat die mense begin het om die offers na die tempel te bring, het ons meer as genoeg om te eet, en daar het baie oorgebly, want die Here het sy volk geseën. Al hierdie hope goed het oorgebly.”
11Hiskia het gesê hulle moet stoorkamers by die tempel bou, en hulle het dit gedoen. 12Die mense het aangehou om die offers en tiendes en gewyde presente te bring. Die Leviet Konanja moes kyk dat hulle alles reg bêre, en sy broer Simi het hom gehelp. 13Die koning en Asarja, die hoof van die tempel, het vir Konanja en Simi gekies en aangestel. Hulle het ook vir Jegiël, Asasja, Nagat, Asael, Jerimot, Josabad, Eliël, Jismakja, Magat en Benaja aangestel om hulle te help. 14Die Leviet Kore seun van Jimna was die wag by die oos-poort. Hy moes die presente neem wat die mense self besluit het om vir die Here te bring. Hy moes die offers uitdeel wat die priesters moet kry en hy moes ook die hoog-gewyde presente uitdeel. 15En Eden, Minjamin, Jesua, Semaja, Amarja en Sekanja moes hom help om die presente uit te deel in die stede waar die priesters gewoon het. Hulle het dit gegee vir die groepe priesters en Leviete, vir die oumense en vir die jongmense. Hulle moes aanhou om dit uit te deel, 16ook vir die priesters en die Leviete wat drie jaar en ouer was, almal wie se name in die naamlys geskryf is, en wat later na die tempel moes kom om daar in hulle groepe die werk te doen wat hulle elke dag moes doen. 17Hulle het die priesters se name in die naamlys geskryf, en hulle het ook geskryf aan watter familie die priesters behoort, maar hulle het die name van die Leviete wat 20 jaar en ouer was, geskryf by die groepe waar hulle gewerk het. 18Hulle het die name van almal in die priester-families geskryf in die naamlys, ook die name van die babatjies, die vroue, die seuns en die dogters. Maar net die mense wat aangehou het om hulleself te wy, kon in die tempel werk. 19Daar was priesters van die nageslag van Aäron wat buite elke stad in die weivelde was. Die koning het mans gekies en aangestel om vir hierdie priesters die presente te gee wat hulle moes kry. Hulle moes dit gee vir elke man of seun van die priesters en vir elke Leviet wie se naam in die naamlys geskryf was. 20Hiskia het gesê hulle moet dit in die hele land Juda doen. Hy het aangehou om goeie dinge te doen. Hy het die regte dinge gedoen waarvan sy God die Here hou. 21Hy het alles met sy hele hart gedoen, alles wat hy wou doen om sy God te dien, om die werk by die tempel te doen en om gehoorsaam te wees aan die wette en gebooie van sy God. En dit het goed gegaan met Hiskia.

Tans Gekies:

2 Kronieke 31: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid