2 Kronieke 29

29
Hiskia
(Kyk ook 2 Kon 18:1-2)
1Hiskia het koning geword toe hy 25 jaar oud was, en hy was 29 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Abija dogter van Sagaria. 2Hiskia het dinge gedoen waarvan die Here hou, hy het alles gedoen soos sy voorvader Dawid gedoen het.
Hiskia sê hulle moet die tempel reinig
3Hiskia het die deure van die tempel laat oopmaak en hy het die gebou laat regmaak. Hy het dit laat doen in die eerste maand van die eerste jaar nadat hy koning geword het. 4Hy het die priesters en die Leviete laat kom en hy het hulle op die oop stuk grond oos van die tempel laat bymekaarkom. 5Hy het vir hulle gesê: “Leviete, luister na my. Julle moet julleself nou wy en julle moet die tempel van die God van julle voorvaders wy. Julle moet alles wat onrein is, uit die tempel bring, 6want ons voorvaders was ontrou, hulle het dinge gedoen waarvan ons God die Here nie hou nie. Hulle het Hom gelos, hulle het gemaak of hulle nie die woonplek van die Here sien nie, hulle het hulle rug gedraai na die tempel. 7Hulle het ook die deure van die voorportaal van die tempel toegesluit en hulle het die lampe doodgeblaas. Hulle het nie wierook gebrand nie en hulle het nie brand-offers gebring by die tempel van die God van Israel nie. 8Daarom het die Here kwaad geword vir die mense van Juda en Jerusalem. Hy het ons baie hard gestraf. Mense wat na ons gekyk het, het begin bewe en het geskrik en gefluit. Julle het dit self gesien. 9Julle weet dat ons voorvaders in oorlog gesterf het, en ons seuns, ons dogters en ons vroue het gevangenes geword omdat hulle hierdie sonde gedoen het. 10Nou het ek, Hiskia, besluit dat ons 'n verbond moet maak met die Here, die God van Israel, sodat Hy nie meer kwaad sal wees vir ons nie. 11Seuns, julle moenie nou wag nie, want die Here het julle gekies om voor Hom te staan en vir Hom te werk. Julle moet sy dienaars en sy priesters wees.”
12Toe het hierdie Leviete vorentoe gekom: Magat seun van Amasai en Joël seun van Asarja van die Kehat-familie, Kis seun van Abdi en Asarja seun van Jehallelel van die Merari-familie, Joag seun van Simma en Eden seun van Joag van die Gerson-familie, 13Simri en Joël van die Elisafan-familie, Sagaria en Mattanja van die Asaf-familie, 14Jegiël en Simi van die Heman-familie, Semaja en Ussiël van die Jedutun-familie. 15Hulle het dadelik die ander Leviete bymekaargeroep. Hulle het hulleself gewy en toe het hulle gegaan om die tempel te reinig. Hulle het dit gedoen soos die Here gesê het en soos die koning gesê het. 16Die priesters het in die tempel ingegaan om die tempel te reinig. Hulle het al die onrein dinge geneem wat hulle in die tempel gekry het, en hulle het dit na die oop stuk grond by die tempel gebring. Die Leviete het dit geneem en hulle het dit na die Kedron-vallei buite die stad gebring. 17Hulle het begin om die tempel te wy op die eerste dag van die eerste maand. Hulle het op die agste dag in die voorportaal van die tempel gekom. Toe het hulle nog ag dae lank die tempel gewy. Hulle was klaar op die sestiende dag. 18Daarna het hulle na koning Hiskia toe gegaan en vir hom gesê: “Ons het die hele tempel gereinig en ook die brandoffer-altaar en die tafel vir die offer-brood en die gereedskap wat daarby moet wees. 19Ons het ook al die goed gereinig wat koning Agas nie daar wou hê nie, daardie tyd toe hy koning was en toe hy ontrou was aan die Here. Dit is alles daar by die altaar van die Here.”
Hiskia en die volk begin weer die tempel gebruik
20Hiskia het die volgende oggend vroeg die leiers van die stad bymekaargeroep en hulle het na die tempel gegaan. 21Hulle het sewe bulle, sewe skaap-ramme en sewe lammers gebring vir die brand-offer, en ook sewe bok-ramme. Dit was 'n sonde-offer vir die koning en vir die tempel en vir die mense van Juda. Die koning het vir die priesters van die nageslag van Aäron gesê hulle moet die diere offer op die altaar van die Here. 22Hulle het eers die bulle geslag en toe die skaap-ramme en daarna die lammers. Hulle het elke maal die bloed teen die altaar gespat. 23Toe het hulle die bokke vir die sonde-offer gebring na die koning en die volksvergadering, en hulle het hulle hande op die bokke gesit. 24Daarna het die priesters die bokke geslag en hulle het die sonde-offer gebring met die bloed van die bokke. Hulle het dit gedoen om versoening te doen vir al die Israeliete, want die koning het gesê die brand-offer en die sonde-offer is offers van al die Israeliete.
25Die koning het toe gesê die Leviete moet gereedstaan by die tempel. Hulle het simbale en harpe en liere by hulle gehad. Dawid en die siener Gad en die profeet Natan het lank gelede gesê hulle moet dit doen, want die Here het toe sy profete gestuur om dit te sê. 26Die Leviete het gereedgestaan met die musiek-instrumente wat Dawid laat maak het, en die trompette was in die priesters se hande. 27Hiskia het gesê die priesters moet die brand-offer op die altaar aan die brand steek, en toe hulle begin offer, het hulle die lied van die Here begin sing en hulle het die trompette geblaas. Hulle het op die musiek-instrumente van koning Dawid van Israel gespeel. 28Die hele volksvergadering het gebuig, en die Leviete het gesing en die priesters het die trompette geblaas totdat hulle klaar ge-offer het. 29Toe hulle die brand-offer klaar ge-offer het, het die koning en almal wat by hom was, op hulle knieë gaan staan en hulle het gebuig met hulle gesigte teen die grond. 30Koning Hiskia het vir die leiers van die Leviete gesê hulle moet die Here prys met die liedere van Dawid en die siener Asaf. Hulle was bly en hulle het dit gedoen. Toe het hulle op hulle knieë gaan staan en hulle het gebuig met hulle gesigte teen die grond. 31Hiskia het daarna vir die mense gesê: “Julle het julleself nou aan die Here gewy. Kom, bring nou dank-offers om dankie te sê vir die tempel.”
Die volk het dank-offers gebring, en almal wat ook brand-offers wou bring, het dit gedoen. 32Die brand-offers wat hulle gebring het, was 70 beeste, 100 skaap-ramme en 200 lammers. Dit was alles brand-offers vir die Here. 33Die gewyde presente was 600 beeste en 3 000 skape en bokke. 34Daar was toe 'n probleem: Daar was te min priesters om al die diere vir die brand-offer klaar te slag. Die Leviete was van dieselfde stam as die priesters, en hulle het vir die priesters gehelp totdat die werk klaar was en totdat meer priesters hulleself gewy het. Die Leviete was meer gehoorsaam as die priesters, hulle het hulleself gewy. 35Daar was ook baie brand-offers en daar was ook die vet van die ete-offers, en die drank-offers by die brand-offer.
So het die volk weer begin om die Here by die tempel te dien. 36Hiskia en die hele volk was bly dat God alles so vir hulle laat gebeur het. Hulle was ook bly omdat dit so vinnig gebeur het.

Tans Gekies:

2 Kronieke 29: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid