2 Kronieke 13

13
Abia
(Kyk ook 1 Kon 15:1-6)
1Abia het koning in Jerusalem geword in die agtiende jaar nadat Jerobeam koning van Israel geword het. 2Abia was drie jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Miga dogter van Uriël van die stad Gibea.
Daar was oorlog tussen Abia en Jerobeam. 3Abia het die oorlog begin met 'n leër van 400 000 manne, dit was sy beste manne wat hy laat uitsoek het. Hulle was manne wat goed oorlog kon maak. Jerobeam het vir hom gewag met 800 000 manne, dit was ook sý beste manne, manne wat geweet het hoe om oorlog te maak. 4Abia en sy leër het teen Semarajim-berg gaan staan in die Efraim-berge, en hy het gesê: “Jerobeam en al die manne van Israel, julle moet luister na wat ek sê. 5Julle weet dat die Here, die God van Israel, vir Dawid en sy nageslag belowe het dat een van hulle altyd koning van Israel sal wees. Hy het met Dawid 'n verbond gemaak wat Hy nooit sal breek nie. 6En toe het Jerobeam seun van Nebat, 'n amptenaar van Salomo seun van Dawid, opstandig geword teen sy koning. 7'n Klomp slegte mense wat niks beteken het nie, het by hom bymekaargekom en hulle was te sterk vir Rehabeam seun van Salomo. Rehabeam was nog jonk en swak en hy kon nie wen teen hulle nie. 8En nou dink julle dat julle sterk kan wees teen die land van die Here, die land waaroor Hy vir Dawid en sy seuns laat regeer. Julle is 'n groot klomp manne en julle het die kalfbeelde by julle, die beelde wat Jerobeam laat maak het om julle gode te wees. 9Julle het die priesters van die Here, die nageslag van Aäron, weggejaag, en ook die Leviete, en julle het vir julle priesters gekies en aangestel soos die volke van ander lande doen. Elkeen wat gekom het en wat 'n bees en sewe skaap-ramme gebring het om homself te laat wy, het 'n priester geword vir gode wat nie gode is nie. 10Maar ons? Die Here is ons God, ons het Hom nie gelos nie. Ons het priesters van die nageslag van Aäron, hulle werk vir die Here, en die Leviete help om die werk te doen wat die priesters moet doen. 11Die priesters offer elke oggend en elke aand brand-offers en wierook wat lekker ruik, hulle sit die offer-brood reg op 'n rein tafel, en hulle kyk dat die lampe van die goue lampstaander elke aand brand, want ons doen wat ons moet doen vir ons God die Here. Maar julle het Hom gelos. 12En julle moet dit weet, God lei ons, en sy priesters het die trompette wat hulle moet blaas sodat die oorlog teen julle kan begin. Israeliete, julle moenie oorlog maak teen die Here, die God van julle voorvaders, nie, want julle sal nie wen nie.”
13Jerobeam het party van sy manne agter-om die Judeërs gestuur om daar weg te kruip. Hulle was agter die Judeërs en sy ander manne was voor hulle. 14Toe die Judeërs omdraai en kyk, toe sien hulle Jerobeam se manne voor hulle en agter hulle. Hulle het tot die Here gebid en gevra dat Hy hulle moet help, en die priesters het die trompette geblaas. 15Die manne van Juda het hard geskree dat die oorlog moet begin, en toe hulle dit doen, het God vir Jerobeam en al die manne van Israel die oorlog laat verloor teen Abia en Juda. 16Die manne van Israel het gevlug vir die manne van Juda, God het Juda laat wen teen hulle. 17Abia en sy manne het gewen en hulle het baie manne doodgemaak. Daar het 500 000 manne van Israel in die oorlog gesterf. 18So het die mense van Israel daardie oorlog verloor. Die Judeërs was die sterkste omdat hulle geglo het dat die Here, die God van hulle voorvaders, hulle sal help. 19Abia het vir Jerobeam gevolg en gejaag en hy het 'n paar stede van Jerobeam gevat. Dit was Bet-El en die dorpies daar naby, Jesana en die dorpies daar naby, en Efrajin en die dorpies daar naby. 20Jerobeam se leër het nie weer sterk geword in die tyd van Abia nie. Die Here het Jerobeam siek laat word, en hy het gesterf. 21Maar Abia se leër het sterk geword. Abia het 14 vroue gehad en hy was die pa van 22 seuns en 16 dogters.
Abia sterf
(Kyk ook 1 Kon 15:7-8)
22Die ander dinge wat Abia gedoen het, hoe hy gelewe het en wat hy gesê het, is geskryf in die Verduidelikings van die profeet Iddo.

Tans Gekies:

2 Kronieke 13: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid