1 Johannes 4:6-20

1 Johannes 4:6-20 ABA

Maar ons is kinders van God. Almal wat vir God ken, doen wat ons sê. Almal wat nie kinders van God is nie, doen nie wat ons sê nie. Daarom weet ons wie het 'n gees wat lieg en wie het God se Gees, die Gees van die waarheid. Vriende, ons moet lief wees vir mekaar, want liefde kom van God. Almal wat lief is vir ander mense, is kinders van God en hulle ken vir God. Mense wat nie lief is vir ander mense nie, ken nie vir God nie, want God is liefde. God het vir ons gewys hoe lief Hy vir ons is toe Hy sy Seun na die wêreld gestuur het. Niemand anders is soos sy Seun nie. Sy Seun het gekom om vir ons ware lewe te gee. Ware liefde is nie dat óns lief was vir God nie, maar dat Gód lief was vir ons en dat Hy sy Seun gestuur het. Sy Seun het gesterf, Hy was die offer wat ons sonde weggeneem het en wat ons met God versoen het. Vriende, God het vir ons gewys hoe lief Hy vir ons is, daarom moet ons ook lief wees vir mekaar. Niemand het vir God gesien nie, nooit. As ons lief is vir mekaar, dan bly God by ons en dan is ons harte vol van sy liefde. Ons weet dat ons by God bly en dat Hy by ons bly, want Hy het sy Gees vir ons gegee. Ons het gesien en nou vertel ons dat die Vader sy Seun gestuur het sodat die Seun die Redder van die wêreld kon word. As mense sê hulle glo dat Jesus die Seun van God is, dan is God by hulle en hulle is by God. Ons het gesien en geglo dat God lief is vir ons. God is liefde, en almal wat vashou aan sy liefde, bly by Hom en Hy bly by hulle. Ons harte het vol geword van God se liefde, en daarom is ons nou nie bang vir die oordeelsdag nie. Ons is nog in die wêreld, maar ons is nie bang om by God te wees nie, soos Jesus nie bang is om by God te wees nie. Mense wat liefde in hulle harte het, is nie bang nie, want as hulle regtig liefde in hulle harte het, dan kan hulle nie meer bang wees nie. Mense is altyd bang vir straf. Die mense wat bang is dat God hulle sal straf, is die mense wat nie regtig liefde in hulle harte het nie. Ons is lief vir God en vir mekaar, want God was eerste lief vir ons. Wanneer mense sê hulle is lief vir God, maar hulle haat ander gelowiges, dan lieg hulle. Hulle kan die ander gelowiges sien, maar is nie lief vir hulle nie. Kan hulle dan lief wees vir God, God vir wie hulle nie sien nie? Nee.

Video vir 1 Johannes 4:6-20