1 Korintiërs 15:50-57

1 Korintiërs 15:50-57 ABA

Vriende, julle moet dit weet: Ons kan nie eendag wees daar waar God Koning is terwyl ons die liggame het wat ons nou het nie. Nee, 'n liggaam wat stof word, kan nie 'n liggaam word wat altyd sal lewe nie. Nou gaan ek iets vir julle vertel wat niemand voorheen geweet het nie. Ons sal nie almal sterf nie, maar God sal ons almal verander. Dit sal baie vinnig gebeur, so vinnig soos 'n mens jou oog knip. Dit sal gebeur wanneer die laaste trompet blaas. Die trompet sal blaas, en dan sal God die mense wat dood is, weer laat lewe. Hulle liggame sal nooit stof kan word nie. God sal ons ook verander, ons wat nog sal lewe wanneer Christus weer kom. Want hierdie liggaam kan stof word, maar God moet vir ons 'n ander liggaam gee wat nie stof kan word nie. Hierdie liggaam kan sterf, maar God moet vir ons 'n ander liggaam gee wat nie kan sterf nie. Wanneer God dit alles gedoen het, wanneer Hy vir ons 'n liggaam gegee het wat nie stof kan word en wat nie kan sterf nie, dan sal die woorde waar word wat in die Ou Testament geskryf is: God het die dood heeltemal oorwin. Dood, dink jy dat jy altyd sal oorwin? Nee, jy sal nie. Dood, dink jy dat jy sal aanhou om mense te laat sterf soos wanneer bye mense doodsteek met hulle angels? Nee. Die dood kry sy angel van die sonde. En die sonde kry sy krag van die wette. Maar ons moet vir God dankie sê. Hy het ons laat oorwin omdat ons aan ons Here Jesus Christus behoort.