1 Kronieke 14
14
Dawid word 'n belangrike koning
(Kyk ook 2 Sam 5:11-12)
1Koning Hiram van die stad Tirus het boodskappers na Dawid toe gestuur. Hy het ook sederhout gestuur en ambagsmanne wat met klip en hout kon werk, en hulle het vir Dawid 'n paleis gebou. 2Dawid het besef dat die Here vir hom koning oor Israel gemaak het. Hy het besef dat die Here lief is vir sy volk Israel en dat Hy daarom vir Dawid 'n baie belangrike koning laat word het.
Die ander kinders van Dawid
(Kyk ook 2 Sam 5:13-14)
3Dawid het met nog vroue in Jerusalem getrou en hy het nog seuns en dogters gekry. 4Hier is die name van die kinders van Dawid wat in Jerusalem gebore is: Sammua, Sobab, Natan, Salomo, 5Jibgar, Elisua, Elpelet, 6Noga, Nefeg, Jafija, 7Elisama, Beëljada en Elifelet.
Dawid maak oorlog teen die Filistyne
(Kyk ook 2 Sam 5:17-25)
8Die Filistyne het gehoor dat Dawid koning geword het oor al die Israeliete, en al die Filistyne het vir Dawid kom soek om hom te vang. Dawid het dit gehoor en hy het na hulle toe gegaan. 9Die Filistyne het gekom tot in Spook-laagte en hulle het daar gereedgestaan. 10Dawid het vir God die Here gevra: “Moet ek die Filistyne gaan aanval? Sal U my laat wen teen hulle?”
Die Here het vir Dawid gesê: “Ja, jy moet hulle gaan aanval, Ek sal jou laat wen teen hulle.”
11Dawid het na die stad Baäl-Perasim gegaan en hy het die Filistyne daar oorwin. Hy het gesê: “God het my vyande oorwin en stukkend geslaan soos water alles stukkend breek. Hy het gesê ek moet dit doen.”
Dit is hoekom hulle daardie plek Baäl-Perasim noem. 12Die Filistyne het hulle gode daar gelos, en Dawid het gesê sy manne moet die gode verbrand.
13Die Filistyne het weer na Spook-laagte gekom en hulle het daar gereedgestaan. 14Dawid het weer vir God gevra wat hy moet doen. God het vir hom gesê: “Jy moenie vir hulle van voor aanval nie, jy moet agter-om hulle gaan en jy moet hulle aanval by die melkbosse. 15Jy sal in die boonste punte van die melkbosse iets hoor, jy sal dink jy hoor dat mense daar loop. Wanneer jy dit hoor, dan moet jy die oorlog begin, want dit is Ek wat voor jou gaan om die Filistyne te oorwin.”
16Dawid het gedoen wat God gesê het, en hy het die Filistyne oorwin, van die stad Gibeon tot by die stad Geser. 17Die mense van al die lande het geweet dat Dawid 'n belangrike koning is, die Here het al die volke bang laat word vir Dawid.
Tans Gekies:
1 Kronieke 14: ABA
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.