SAGARIA 11

11
1Maak oop jou deure,
Libanon,
sodat vuur jou sederbome
kan verbrand.
2Huil, sipresbome,
want die sederboom het geval,
die grootste en die mooiste
van almal.
Huil, eikebome van Basan,
as jy toekyk hoe digte bosse
afgekap word.
3Luister na die gehuil
van die herders,
want hulle rykdom is weg.
Luister na die gebrul
van jong leeus,
want hulle pragtige bosse
langs die Jordaanvallei
is verwoes.
Goeie en slegte herders
4Dit is wat die Here my God sê: “Gaan en sorg vir ’n trop slagskape. 5Die kopers sal hulle skape slag sonder enige skuldgevoel. Die verkopers sal sê: ‘Prys die Here, nou is ek ryk!’ Selfs die herders het geen meegevoel met hulle nie. 6Net so sal Ek ook nie meer meegevoel hê met die inwoners van die land nie,” sê die Here. “Ek laat hulle in mekaar se kloue val en in die kloue van hulle koning. Hulle sal die land in ’n wildernis verander en Ek sal hulle nie red nie.”
7Ek het toe die skape wat bedoel is om geslag te word, opgepas – veral die onderdrukte skape. Ek het twee herderskieries gevat, die een het ek Guns en die ander een Eenheid genoem. 8In een maand het ek van drie slegte herders ontslae geraak. Ek het ongeduldig met die skape geword en hulle het ook vir my moeg geword. 9Ek sê toe vir hulle: “Ek wil nie meer julle herder wees nie. Dié wat wil doodgaan, moet doodgaan. Laat dié wat wegraak, wegraak. Laat dié wat oorbly, mekaar verslind!”
10Ek het toe my herderskierie “Guns” gevat en dit middeldeur gebreek. Daarmee wou ek wys dat ek die verbond wat ek met al die nasies gehad het, verbreek. 11Dit was die einde van die ooreenkoms met hulle. Dié wat skape gekoop en verkoop het, het my dopgehou en geweet dat die Here deur my handelinge met hulle gepraat het. 12Ek het toe vir hulle gesê: “As julle dink dit is reg, gee my my regmatige loon, maar net as julle wil.” Hulle het toe 30 stukke silwer as my loon afgetel.
13Die Here het toe vir my gesê: “Gooi dit vir die pottebakker!” Dit was die buitengewone prys waarmee hulle my geëvalueer het! Ek het toe die 30 muntstukke geneem en dit in die tempel van die Here vir die pottebakker gegooi. 14Toe breek ek my ander herderskierie, “Eenheid”, om daarmee te wys dat die verbond van eenheid tussen Juda en Israel verbreek was.
15Die Here het vir my gesê: “Gaan weer en maak soos ’n nikswerd herder. 16Dit sal wys hoe Ek vir die nasie ’n herder sal gee wat nie omgee vir skape wat vergaan nie, wat nie die lammers gaan soek, of die beseerde skape versorg, of die gesonde skape kos gee nie. Inteendeel, hierdie herder sal die vleis van die vetste skaap eet en die ander se kloue afruk.
17“So ’n nikswerd herder
wat sy trop verlaat,
sal verseker veroordeel word!
Mag die swaard sy arm afkap
en sy regteroog deurboor!
Sy arm sal onbruikbaar word
en sy regteroog
heeltemal blind!”

Tans Gekies:

SAGARIA 11: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid