RUT 2:18-23

RUT 2:18-23 NLV

Sy het dit opgetel en saamgeneem dorp toe. Haar skoonma het gesien hoe baie sy opgetel het. Rut het ook van die kos wat oorgebly het, vir haar gegee. “Waar het jy vandag are opgetel?” vra Naomi haar toe. “Mag die HERE die een seën wat jou gehelp het!” Rut vertel toe vir haar skoonma van die man op wie se landerye sy gewerk het. Sy sê verder: “Die man op wie se landerye ek vandag gewerk het se naam is Boas.” “Mag hy geseënd wees deur die HERE wat nie opgehou het om getrou te wees aan dié wat lewe en dié wat dood is nie!” sê Naomi vir haar skoondogter. Sy voeg by: “Daardie man is familie van ons. Hy is een van ons lossers.” Rut vertel toe verder: “Boas het boonop vir my gesê om weer terug te kom en by sy werkers te bly totdat die hele oes ingesamel is.” “Dis wonderlik!” roep Naomi uit. “Maak soos hy vir jou sê. Bly by sy werkers vir die duur van die oestyd. Daar sal jy veilig wees, maar op ’n ander land kan jy dalk gemolesteer word.” So het Rut saam met die werkers tot die einde van die garsoes en die graanoes gebly en op Boas se landerye are opgetel. Sy het steeds by haar skoonma gewoon.