RUT 1:1-17

RUT 1:1-17 NLV

In die tyd toe die rigters in Israel opgetree het, het ’n man uit Betlehem in Juda uit die land weggetrek omdat daar ’n swaar hongersnood in die land was. Hy en sy vrou en twee seuns het in die land Moab gaan woon. Die man se naam was Elimelek en sy vrou was Naomi. Hulle twee seuns se name was Maglon en Kiljon. Hulle was Efratiete uit Betlehem in die land Juda. Hulle het in Moab aangekom. Terwyl hulle daar gewoon het, is Elimelek dood en het Naomi met haar twee seuns agtergebly. Albei seuns het met Moabitiese vroue getrou. Die een se naam was Orpa en die ander een s’n was Rut. Hulle het ongeveer tien jaar lank daar gebly. In hierdie tyd is Maglon en Kiljon ook dood. Naomi het alleen agtergebly, sonder ’n man en sonder seuns. Naomi het daar in Moab gehoor dat die HERE sy volk in Juda met goeie oeste geseën het. Toe het Naomi en haar twee skoondogters klaargemaak om uit Moab na Juda toe terug te trek. Sy en haar skoondogters het uit die plek waar sy gebly het, vertrek op pad terug na Juda toe. Naomi sê toe vir haar twee skoondogters: “Moenie verder saam met my gaan nie. Gaan liewer terug na julle ouerhuise toe. Mag die HERE julle beloon vir die liefde wat julle aan my en my seuns betoon het. Mag die HERE weer vir julle elkeen ’n man en ’n huis gee.” Toe sy van hulle afskeid neem, het hulle in trane uitgebars. Die skoondogters sê toe: “Nee, ons wil saam met u teruggaan na u mense toe.” Maar Naomi antwoord: “Gaan tog terug, my dogters. Hoekom sou julle saam met my gaan? Ek kan tog nie meer seuns in die wêreld bring wat kan grootword om julle mans te wees nie. Nee, my dogters, gaan eerder terug na julle ouerhuise toe, want ek is te oud om weer te trou. Selfs al sou dit moontlik wees en ek vanaand by ’n man slaap en geboorte gee aan kinders, sal julle kan wag totdat hulle groot is? Sal julle tot dan toe ongetroud kan bly? Natuurlik nie, my dogters! Dit is vir my baie swaarder as vir julle, want die HERE het baie swaarkry oor my laat kom.” Die skoondogters het weer begin huil. Orpa het van haar skoonma afskeid geneem, maar Rut wou nie gaan nie. “Kyk,” sê Naomi vir haar, “jou skoonsuster het teruggegaan na haar mense en na haar gode toe. Gaan jy nou ook maar saam met haar terug.” Maar Rut antwoord: “Moenie my probeer oorreed om van Ma af weg te gaan nie. Waarheen u ook al gaan, sal ek gaan. Waar u gaan woon, sal ek ook woon. Ma se mense is ook my mense. U God is ook my God. Waar u doodgaan, sal ek ook doodgaan en daar begrawe word. Mag die HERE dit so laat gebeur. Net die dood sal ons skei.”