Broers en susters, die intense verlange van my hart en my gebed tot God is dat my volk verlos sal word. Ek kan getuig hoeveel hulle hulle vir God beywer, maar hierdie ywer is sonder die regte insig. Want hulle ignoreer die vryspraak van God en hulle streef daarna om self hulle saak met God reg te maak. Hulle is nie bereid om God se vryspraak te aanvaar nie. Christus is immers die eindbestemming van die wet sodat elkeen wat in Hom glo, vrygespreek kan word. Moses skryf soos volg omtrent die moontlikheid om jou saak met God reg te maak: “Wie die vereistes van die wet nakom, sal daardeur lewe.” Maar die vryspraak wat ’n mens kry deurdat jy glo, se boodskap is: “Jy hoef nie in jou hart te wonder: ‘Wie sal na die hemel opklim’ – dit wil sê om Christus na die aarde toe te bring om jou te help, of: ‘Wie sal na die plek van die dooies onder die aarde afdaal’ – dit wil sê om Christus uit die dood terug te bring nie. Nee, die verlossing wat joune word deurdat jy glo – en dit is juis hierdie boodskap wat ons verkondig – is sommer hier by jou. Om die waarheid te sê, die Skrifwoord lui: ‘Die boodskap is hier by jou, op jou lippe en in jou hart.’” Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. Want as ons glo met ons hart, word ons vrygespreek en as ons met ons mond bely, word ons verlos. Soos die Skrif sê: “Wie in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.” Inderdaad! Dit maak geen verskil of jy ’n Jood of ’n Griek is nie. Ons het almal dieselfde Here en Hy deel sy rykdomme uit aan almal wat Hom aanroep. Want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word”. Maar hoe sal hulle Hom aanroep as hulle nie in Hom glo nie? En hoe sal hulle in Hom glo as hulle nog nooit van Hom gehoor het nie? En hoe sal hulle van Hom hoor sonder dat daar iemand is wat die boodskap bring? En hoe sal hulle die boodskap bring as hulle nie gestuur word nie? Daarom sê die Skrif: “Hoe lieflik klink die voetstappe van hulle wat die Goeie Boodskap bring!”
Lees ROMEINE 10
Luister na ROMEINE 10
Deel
Vergelyk alle weergawes: ROMEINE 10:1-15
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's