God wat onreg oordeel, HERE,
God van oordeel,
vertoon tog Uself!
Kom, Regter van die aarde!
Vergeld die hoogmoediges
volgens wat hulle verdien.
Hoe lank, HERE,
sal die goddeloses,
hoe lank sal die goddeloses
seëvier?
Hulle borrel oor
met astrante woorde;
al die boosdoeners
spog daarmee.
Hulle vertrap u volk,
HERE,
en verdruk dié
wat aan U behoort.
Weduwees en vreemdelinge
bring hulle om die lewe,
en weeskinders maak hulle dood.
Hulle sê:
“Die HERE sien dit nie;
die God van Jakob
bemerk dit nie.”
Dink weer, julle onnoseles!
Wanneer word julle wys,
dwase?
Is Hy wat die ore gemaak het,
doof?
Is Hy wat die oë gevorm het,
blind?
Sou Hy wat die nasies straf,
dan nie straf nie?
Sou Hy wat onderrig,
aan kennis ontbreek?
Die HERE ken mense
se gedagtes,
Hy weet dat dit niks werd is nie.
Geseënd is hulle
vir wie U vermaan, HERE,
vir wie U uit u gebooie onderrig.
U gee hom verligting
in moeilike tye,
maar vir die goddelose
wag ’n graf.
Die HERE sal sy volk
sekerlik nie verlaat nie,
en sy erfdeel
nie laat vaar nie.
Regspraak sal kom
vir die regverdiges
en al die opregtes
sal dit soek.
Wie beskerm my
teen goddeloses?
Wie staan my by
teen boosdoeners?
As die HERE
my nie gehelp het nie,
was die stilte van die graf my lot.
Toe ek sê: “My voet gly!”
het u trou my ondersteun,
HERE.
Wanneer twyfel my oorweldig,
het u troos my verbly.
Kan ’n bose regeerder
aan U verbind wees,
iemand wie se wette
ellende bring?
Hulle span saam
teen regverdiges,
veroordeel onskuldiges
tot die dood.
Maar die HERE is my toevlug;
my God is ’n rots
waar ek kan skuil.
Hy sal hulle sondes vergeld,
hulle vernietig
oor hulle boosheid.
Die HERE ons God
sal hulle uitwis.