Die HERE is ons beskermer,
die Heilige van Israel
is ons koning.
Voorheen het U
deur ’n visioen
met hulle wat aan U getrou is,
gepraat en gesê:
“Ek het hulp verleen
aan ’n krygsman.
Uit die gewone mense
het Ek die uitverkore een
verhef.
Ek het my dienskneg Dawid
gevind.
Met heilige olie
het Ek hom gesalf.
Met my hand
sal Ek hom ondersteun,
met my arm
sal Ek hom sterk maak.
Vyande
sal hom nie onderwerp nie,
goddeloses sal hom
nie verdruk nie.
Ek sal sy vyande
voor hom verpletter
en sy haters verslaan.
My trou en liefde
sal met hom wees,
en deur my Naam sal hy oorwin.
Ek sal sy mag uitbrei
tot by die see,
en tot by die riviere.
Hy sal vir My sê:
‘U is my Vader, my God,
die rots van my redding.’
Ek sal hom
my eersgeborene maak,
die magtigste koning op aarde.
Ek sal vir altyd
aan hom my trou betoon;
my verbond met hom
vas laat staan.
Ek sal ’n opvolger
vir altyd bepaal;
sy troon sal wees sonder einde,
so lank as wat die hemel bestaan.
Maar as sy seuns
my gebooie nalaat
en nie in my weë wandel nie,
as hulle nie my bepalings navolg,
nie my bevele gehoorsaam nie,
dan sal Ek hulle eiesinnigheid straf,
hulle oortredings swaar bestraf.
Maar my liefde vir hom
sal nooit ophou nie,
en my trou aan hom
sal Ek nie wegneem nie.
Ek sal my verbond
nie verbreek nie,
en wat Ek beloof het,
nie verander nie.
Ek het by my heiligheid
’n eed afgelê,
en my belofte aan Dawid
sal Ek nie verbreek nie.
Sy nakomelinge
sal altyd daar wees,
en sy troon sal blywend wees
soos die son.
Soos die maan
is dit daar vir altyd,
’n getroue getuie
in die lug!”
Sela
Maar U het hom verwerp
en verstoot.
U was kwaad vir u gesalfde.
U het u verbond met hom
laat vaar,
U het sy kroon
op die grond vertrap.
U het al sy stadsmure
afgebreek
en sy vestings
in puinhope verander.
Elkeen wat verbykom,
beroof hom,
terwyl sy bure hom bespot.
U het sy vyande laat triomfeer,
al sy teenstanders laat jubel.
U het sy swaard nutteloos gemaak,
hom nie bygestaan
in die geveg nie.
U het sy grootsheid beëindig
en sy troon
op die grond gegooi.
U het hom oud
voor sy tyd gemaak
en hom met vernedering oordek.
Sela
Hoe lank nog, HERE?
Sal U Uself vir altyd verberg,
en u toorn soos vuur laat brand?
Dink tog hoe verganklik
is die lewe.
Is die skepping van die mens
dan ’n nuttelose daad?
Watter mens kan lewe
sonder om die dood te sien?
Wie kan homself red
uit die mag van die doderyk?
Sela
Here, waar is u liefde van vroeër
wat U in u trou
met ’n eed
aan Dawid beloof het?
Dink tog, Here,
aan die vernedering
van u dienaars,
hoe ek in my hart
die beledigings
van baie volke dra.
Hulle wat spot,
is u vyande, HERE,
hulle bespot elke tree
van u gesalfde.