HERE my God,
ek soek u beskerming.
Red my van al my vervolgers, red my!
Anders sal hulle my toetakel
soos ’n leeu,
my in stukke skeur
sonder dat iemand my red.
HERE my God,
as ek iets verkeerds gedoen het,
as ek skuldig is aan onreg,
as ek ’n vriend van my
verraai het,
my vyand sonder rede
beroof het,
laat my vyande my agtervolg
en vang,
my in die grond in vertrap,
my eer
tot in die stof verneder.
Sela
Staan op, HERE, in u toorn!
Tree op
teen my vyande se woede!
Kom tot aksie, my God!
Laat u geregtigheid seëvier!
Laat die nasies om U versamel.
Sit op u troon,
ver bo hulle verhewe.
HERE, U wat regspreek
oor die volke,
oordeel my, HERE,
volgens my regverdigheid
en in die lig van my onskuld.
Regverdige God
wat gedagtes en gevoelens deursoek,
maak ’n einde
aan die boosheid
van die goddelose,
maar ondersteun die regverdiges.
God is my skild,
Hy wat opregtes van hart
verlos.
God is ’n regverdige regter;
God oordeel
bose mense daagliks.
As iemand nie berou het nie,
maak Hy sy swaard skerp.
Hy span sy boog
en hou dit gereed.
Hy het dodelike wapens
voorberei
en sy vurige pyle is gereed.
Hy wat swanger is van sonde,
wat verwagtend is van onheil,
gee geboorte aan leuens.
Hy grawe ’n gat
om ander te vang,
maar val dan self daarin.
Sy boosheid tref homself,
sy geweld kom neer
op sy eie kop.