Hy het gesê: Ek het U baie lief, HERE; U is my sterkte. Die HERE is my rots, my vesting en my redder, my God, en my rots by wie ek skuil. Hy is my skild, my magtige redder, my veilige vesting. Ek het tot die HERE geroep, Hy wat lofwaardig is, want Hy red my van my vyande. Bande van die dood omring my; strome van onheil oorweldig my. Bande van die dood draai my vas; strikke van die dood wag my in. In my angs het ek tot die HERE geroep, tot my God geroep om hulp. In sy heiligdom het Hy geluister; my hulpgeroep het Hy gehoor. Toe het die aarde geskud en gebewe; die fondamente van die berge het gerammel, hulle het geruk vanweë sy toorn. Rook het uit sy neusgate geborrel, verterende vlamme uit sy mond, gloeiende kole uit sy binnekant. Hy het die hemele oopgebreek en afgekom; donkerte was onder sy voete. Hy het ’n gerub bestyg en gevlieg, Hy het gesweef op die vlerke van die wind. Hy het Homself met donkerte omhul, reënwolke en wolkemassas het Hom bedek. Uit die gloed voor Hom het wolke gekom, hael en weerligstrale. Die HERE se stem donder uit die hemel; die Allerhoogste laat sy stem hoor: hael en weerligstrale. Hy skiet sy pyle, verstrooi sy vyande; sy weerlig flits, hulle is verbysterd. Die bodem van die see word sigbaar, die fondamente van die aarde word ontbloot deur die gebulder van die HERE, en die rukwind van sy asem. Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, uit diepwaters het Hy my getrek. Hy verlos my van magtige vyande, van haters wat te sterk was vir my. Hulle het aangeval toe ek in die moeilikheid was, maar die HERE hou my staande. Hy lei my na veiligheid, en red my omdat Hy my liefhet. Die HERE beloon my opregtheid; Hy vergoed my onskuld. Want ek was getrou aan die voorskrifte van die HERE; ek was nie skuldig teenoor my God nie. Want sy voorskrifte het ek onderhou; en van sy bepalings nie afgewyk nie. Ek is onskuldig voor Hom; ek het weggebly van sonde.
Lees PSALMS 18
Luister na PSALMS 18
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: PSALMS 18:1-24
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's