Wees goed vir u dienaar
sodat ek mag lewe
en u woord gehoorsaam.
Maak oop my oë
sodat ek die wonders
kan sien
wat opgeskryf is
in u gebooie.
Al is ek net ’n vreemdeling
op aarde,
moenie u gebooie
van my weghou nie.
Ek word voortdurend verteer
deur ’n begeerte
na u bepalings.
U bestraf trotsaards
en vervloektes
wat afdwaal van u gebooie.
Weer smaad en belediging
van my,
want ek gehoorsaam
u waarskuwings.
Al sit en praat heersers saam
teen my,
sal ek u voorskrifte oordink.
U waarskuwings
is beslis my vreugde;
dit gee my goeie raad.
Ek lê in die stof,
op pad na die graf;
laat my herlewe
volgens u woord.
My optrede
het ek bekendgemaak,
en U het geantwoord.
Leer my nou u voorskrifte.
Leer my verstaan
die betekenis van u bevele,
sodat ek u wonders
kan oordink.
Ek huil van droefheid;
versterk my
soos U in u woord beloof.
Bewaar my
van leuenagtige weë;
leer my in genade
u gebooie.
Ek het die betroubare pad
gekies;
ek lewe volgens u bepalings.
Ek hou vas aan u voorwaardes,
HERE.
Moenie dat ek
in skande kom nie!
Ek sal die pad van u gebooie
navolg,
want U sal my begrip verbreed.
Leer my, HERE,
hoe om u voorskrifte
uit te voer
sodat ek hulle
tot die einde toe kan nakom.
Gee vir my insig
dat ek kan leef
volgens u gebooie,
en dit van harte gehoorsaam.
Laat my wandel
volgens u gebooie,
want dis waarin ek vreugde vind.
Laat my verlang
na wat U vereis;
verhoed dat ek
materialisties word.
Weerhou my
van waardelose dinge;
laat my lewe
volgens u voorskrifte.
Bevestig opnuut aan my
u belofte,
wat bedoel is vir hulle
wat U dien.
Neem weg die smaad
wat ek vrees,
want u bepalings is goed.
Ek verlang van harte
na u bevele.
Laat my lewe
deur u geregtigheid.
HERE, laat u troue liefde
my oordek,
die redding
wat U my belowe het.
Dan kan ek my spotters
antwoord,
want ek vertrou op u woord.
Laat ek tog
altyd die waarheid praat,
want ek hoop
op u geregtigheid.
Ek sal u gebooie gehoorsaam
so lank as wat ek lewe.
Ek sal in vryheid kan lewe,
want ek soek u bevele.
Voor konings sal ek praat
oor u verordeninge,
sonder om skaam te wees.
Ek verlustig my in u gebooie
wat ek baie liefhet.
Met eerbied
lig ek my hande op
vir u gebooie wat ek liefhet.
Ek dink na oor u voorskrifte.
Onthou die beloftes
aan u dienaar,
want U het my laat hoop.
U belofte laat my weer lewe,
dit vertroos my
in al my ellende.
Die hoogmoediges
minag my op groot skaal;
tog wyk ek nie af
van u gebooie nie.
Ek onthou u bepalings
van ouds;
dit vertroos my, HERE.
Ek is baie ontsteld
oor die goddeloses,
hulle wat u gebooie verwerp.
U voorskrifte is vir my ’n lied
tydens my aardse
vreemdelingskap.
In die nag dink ek aan U,
HERE,
en sal u gebooie gehoorsaam.
Dit is soos ek gedoen het,
want ek het u bepalings
gehoorsaam.