PSALMS 105:26-41

PSALMS 105:26-41 NLV

Hy het Moses, sy dienaar, gestuur, en vir Aäron, wat Hy verkies het. Hulle het wondertekens tussen hulle verrig, en wonderwerke in die land Egipte. Hy het duisternis gestuur, en dit het donker geword. Nogtans het die Egiptenaars hulle teen sy bevele verset. Hy het hulle water in bloed verander, en so al die visse laat vrek. Toe het paddas die land oordek, tot in die koning se slaapkamer. Op sy bevel het swerms insekte gekom, en muggies oor die hele land. Hy het hael gestuur in plaas van reën, en weerlig oor hulle hele land. Wingerde en vyebome het Hy getref, en al hulle bome stukkend geslaan. Op sy bevel het sprinkane gekom, hordes sprinkane sonder tal. Al die groen plante in die land het hulle verorber, al die produkte van die landerye het hulle vernietig. Die oudste seuns in hulle land het Hy laat sterf, die eerstelinge van elke huisgesin. Toe het Hy Israel uit Egipte uitgelei, oorlaai met silwer en goud. Niemand in die stamme het gestrompel nie. Egipte was bly toe hulle getrek het, want hulle was almal baie bang vir hulle. Die HERE het as bedekking ’n wolk oor hulle uitgesprei, en vuur om die nag te verlig. Hulle het kos gevra, en Hy het kwartels gestuur; met brood uit die hemel het Hy hulle versadig. Hy het ’n rots gekloof, en water het uitgestroom, ’n rivier het in dorre plekke gevloei.