PSALMS 104:24-35

PSALMS 104:24-35 NLV

HERE, hoe baie is u werke! U het alles met wysheid gemaak. Die aarde is vol van u skepsels. Daar is die oseaan, groot en wyd. Dit wemel van diere, lewende wesens, groot en klein. Daar is die skepe wat oral rondvaar; en ook die Leviatan, wat U gemaak het om mee te speel. Elkeen van hulle reken op U om kos te gee volgens behoefte. U gee vir hulle, hulle versamel dit. U maak u hand oop, met die goeie word hulle versadig. As U U onttrek, is hulle verskrik. Neem U hulle asem weg, dan sterf hulle en word weer stof. U stuur u lewensasem, en lewe word geskep. Uit die grond laat U nuwe lewe spruit. Mag die heerlikheid van die HERE vir altyd duur! Mag die HERE Hom verheug in al sy werke! Hy kyk na die aarde, en dit skud; Hy raak aan die berge, en dit brand. Lewenslank sal ek die HERE besing, en God prys met my laaste asem. Mag my gedagtes Hom verheug, want ek is bly in die HERE. Mag sondaars van die aarde af verdwyn; mag die goddeloses nie meer bestaan nie. Wat my betref, ek wil die HERE loof! Prys die HERE!