SPREUKE 6:20-29

SPREUKE 6:20-29 NLV

My seun, gehoorsaam wat jou pa jou leer. Moenie reëls wat jou ma vir jou gee, ignoreer nie. Bewaar dit altyd in jou hart. Dra dit om jou nek. Waarheen jy ook al op pad is, dit sal vir jou die koers aandui. Dit sal jou beskerm wanneer jy slaap. Dit sal jou wys wat jy moet doen sodra jy wakker word. My opdragte is soos ’n lamp vir jou. My reëls is vir jou ’n lig. Vir die een wat hom laat dissiplineer, is dit die pad na die lewe. Hierdie reëls sal jou beskerm teen die onsedelike vrou, teen die vreemde vrou wat jou wil verlei met haar gladde tong. Moenie opgewonde raak omdat sy mooi is nie. Moenie dat sy jou vang met die gefladder van haar wimpers nie. ’n Prostituut kan jy vir ’n stukkie brood in die hande kry. Owerspel met ’n ander man se vrou kan jou egter jou hele lewe kos. Kan jy kole vuur in ’n voorskoot dra sonder dat jou klere aan die brand raak? Kan jy op brandende kole loop en nie jou voete skroei nie? Net so is dit met iemand wat by ’n ander man se vrou gaan slaap. Niemand wat met haar lol, sal ongedeerd daarvan afkom nie.