SPREUKE 10:17-32

SPREUKE 10:17-32 NLV

Mense wat hulle laat reghelp, is op die pad na die lewe. Hulle wat teregwysing verwerp, laat ander verdwaal. Wie sy haat agter woorde wegsteek, is ’n leuenaar. Hy wat skinderstories versprei, is ’n dwaas. Meer woorde bring nie minder sonde nie. Hy wat sy woorde tel, is verstandig. Die woorde van die regverdige is soos gekeurde silwer. Die gedagtes van die goddelose is min werd. Die regverdiges bring lewe deur hulle woorde. Die dwase vernietig hulleself weens ’n gebrek aan gesonde verstand. Dit is die HERE se seën wat rykdom bring. Hy gee nie hartseer daarmee saam nie. Dit is vir die dwaas lekker om verkeerd op te tree. Mense met insig geniet die wysheid. Goddelose mense kom die dinge oor waarvoor hulle bang is. Die regverdige kry waarvoor hy gehoop het. Wanneer teëspoed kom soos ’n stormwind, is goddeloses daarmee heen, maar die regverdiges bly stewig staan. ’n Lui mens is ’n aanstoot vir dié wat hom werk gee. Hy is soos asyn tussen die tande, of soos rook in die oë. Hy wat ontsag het vir die HERE, maak sy lewe langer; die goddelose se lewe word kortgeknip. Die regverdiges kan vreugde verwag, maar goddeloses het geen hoop nie. Wat die HERE laat gebeur, versterk dié wat reg lewe. Dit vernietig egter hulle wat kwaad doen. Die regverdige sal nooit wankel nie. Die goddeloses sal nie in die land bly woon nie. Uit die mond van regverdiges kom wysheid. ’n Tong wat kwaad saai, sal afgesny word. Die regverdige weet wat die gepaste dinge is om te sê. Wat die goddeloses sê, bring moeilikheid.