Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees: Alhoewel Hy self God was, het Hy nie vasgeklou aan die Goddelikheid wat Hom toekom nie, maar Hy het dit prysgegee: Hy het ’n slaaf geword en aan mense gelyk geword. En toe Hy as mens geleef het, het Hy Homself nog verder verneder deur tot die dood toe gehoorsaam te wees, ja, tot die kruisdood toe! Daarom het God Hom ook tot die hoogste posisie verhoog en aan Hom die Naam gegee wat belangriker is as elke ander naam. Só sal by die noem van Jesus se heerlike Naam elke knie in die hemel en op die aarde en onder die aarde buig, en elke tong sal bely: “Jesus Christus is Here!” En só sal God die Vader verheerlik word! My geliefdes, julle was altyd baie gehoorsaam toe ek by julle was. Noudat ek weg is, moet julle nog meer gehoorsaam wees. Vol ontsag en eerbied vir God moet julle voortgaan om aan julle verlossing gestalte te gee. Dis mos God wat die gewilligheid en die vermoë in julle bewerk om te handel volgens wat Hy graag wil hê! Doen alles sonder kla of teëpraat. Dan sal julle as onberispelike kinders van God bo verdenking staan. Julle sal skoon lewe in ’n wêreld vol oneerlike en perverse mense. Skyn in hierdie donker wêreld soos helder sterre deur noukeurig te leef volgens die boodskap wat tot die lewe lei. Dan, wanneer Christus terugkom, sal ek tevrede wees dat ek nie verniet gejaag en geswoeg het nie. Selfs al word my lewe soos ’n drankoffer uitgegiet bo-op die offer van julle gelowige diens aan God, is ek bly daaroor en wil ek saam met julle almal bly wees daaroor. Laat my vreugde hieroor ook julle vreugde wees!
Lees FILIPPENSE 2
Luister na FILIPPENSE 2
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: FILIPPENSE 2:5-18
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's