MARKUS 8:11-38

MARKUS 8:11-38 NLV

Toe die Fariseërs hoor van Jesus se aankoms, het hulle met Hom begin argumenteer. Om die egtheid van Jesus se aansprake te toets dring hulle toe by Hom aan op ’n goddelike wonderteken. Jesus sug toe diep en sê: “Waarom wil julle mense so graag ’n wonderteken hê? Ek verseker julle, Ek gaan aan hierdie bose geslag mense geen teken gee nie.” Hy het hulle toe net daar gelos, in die skuit geklim en weer na die oorkant toe vertrek. Die dissipels het vergeet om brood te koop. Hulle het net een brood by hulle in die skuit gehad. Jesus waarsku hulle toe: “Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die Fariseërs en Herodes.” Hulle het toe onder mekaar geargumenteer: “Hy sê dit omdat ons geen brood by ons het nie.” Jesus het geweet wat hulle dink en sê toe vir hulle: “Waarom argumenteer julle onder mekaar omdat julle nie brood het nie? Sal julle nooit leer of verstaan nie? Is daar nog steeds soveel weerstand in julle harte? Julle het oë – kan julle dan nie sien nie? Julle het ore – kan julle dan nie hoor nie? Onthou julle dan glad nie? Toe Ek die vyf brode vir die 5 000 gebreek het, hoeveel mandjies vol oorskiet het julle opgetel?” Hulle antwoord Hom: “Twaalf.” “En toe Ek die 4 000 met sewe brode gevoed het, hoeveel mandjies vol oorskiet het julle opgetel?” “Sewe,” het hulle geantwoord. “Verstaan julle selfs nou nog nie?” het Hy hulle gevra. Toe hulle in Betsaida aankom, het mense ’n blinde man na Jesus toe gebring en gesoebat dat Hy sy hand op hom moes sit en hom gesond maak. Jesus neem die blinde man toe aan die hand en lei hom uit die dorpie. Toe spoeg Hy op die man se oë, sit sy hande op hom en vra vir hom: “Kan jy iets sien?” Die man kyk toe op en sê: “Ja, ek sien mense, maar hulle is baie dof. Hulle lyk soos bome wat rondloop.” Toe het Jesus sy hande weer ’n keer op die man se oë gesit. Sy oë het begin fokus en sy sig is volkome herstel. Hy kon nou alles duidelik sien. Jesus het hom toe beveel: “Gaan reguit huis toe. Moenie indraai dorp toe nie.” Jesus en sy dissipels het Galilea verlaat en na die dorpies van Sesarea-Filippi gegaan. Op pad vra Hy sy dissipels toe: “Wie, sê die mense, is Ek werklik?” “Wel,” antwoord hulle Hom, “party meen U is Johannes die Doper, ander weer Elia, nog ander die een of ander profeet.” Hy sê vir hulle: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?” Petrus antwoord: “U is die Messias.” Maar Jesus het aan hulle streng opdrag gegee om dit vir niemand te vertel nie. Jesus het toe by hulle begin tuisbring dat God bepaal het dat Hy, die Seun van die Mens, baie dinge moet ly: Hy sal deur die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners verwerp word. Hy sal doodgemaak word, maar sal ná drie dae weer opstaan. Hy het dit reguit vir hulle vertel. Maar Petrus vat Hom toe eenkant toe en begin Hom ernstig bestraf. Jesus het Hom egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus bestraf met die woorde: “Gee pad agter My, jou satan! Jy dink soos mense dink. Jy dink nie soos God dink nie.” Toe roep Jesus sy dissipels en die skare na Hom toe en sê vir hulle: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis opneem en agter My aan kom. As julle probeer om julle lewe selfsugtig vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My en ter wille van die Goeie Nuus prysgee, sal julle dit juis red. Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jou diepste menswees ly skade? Jy sal met niks ter wêreld daarvoor kan vergoed nie. As jy jou vir My en vir my boodskap skaam te midde van vandag se ontroue en sondige mense, sal Ek, die Seun van die Mens, My ook vir jou skaam wanneer Ek terugkeer met die heilige engele, beklee met die heerlikheid van my Vader.”

Video vir MARKUS 8:11-38

Gratis leesplanne en oordenkings oor MARKUS 8:11-38