Jesus het vir hulle gesê: “’n Lamp is tog sekerlik nie bedoel om onder ’n emmer of onder ’n bed gesit te word nie. Dis mos bedoel om op ’n lampstaander gesit te word waar dit sy lig kan versprei. “Alles wat nou geheim is, sal bekendgemaak word. Alles wat nou verborge is, sal aan die lig kom. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.” Hy het ook vir hulle gesê: “Maak seker dat julle goed aandag gee aan wat julle van My hoor. Hoe meer julle luister, hoe meer sal julle verstaan – en julle sal boonop nog meer ontvang. Wie hulle oopstel vir my onderrig – vir hulle sal nog meer gegee word. Maar wie dit nie doen nie – van hulle sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word.” Jesus het ook gesê: “God se koningsheerskappy is soos ’n boer wat saad op sy land saai. Dan gaan hy voort met sy ander daaglikse aktiwiteite. Intussen ontkiem en groei die saad – hoe, weet hy self nie mooi nie. Die grond produseer die graan vanself: eers kom die eerste blaartjie uit, dan vorm die aar en uiteindelik sit die volgroeide koringkorrel in die aar. En sodra die koring ryp is, steek die boer die sekel in, want die oestyd is daar.” “Waarmee kan Ek die koningsheerskappy van God vergelyk?” het Jesus gevra. “En met watter gelykenis sal ons dit toelig? “Dis soos ’n mosterdsaadjie wat wel die kleinste van alle sade is, maar nadat dit geplant is, skiet dit op en word groter as al die plante in die tuin. Dit maak takke wat so groot word dat die voëls veilig daarin kan kom nes maak.” Jesus het baie sulke gelykenisse gebruik om die woord aan die mense te bedien volgens wat hulle kon verstaan. Eintlik het Hy in sy openbare onderrig net gelykenisse gebruik, maar wanneer Hy agterna alleen was saam met sy dissipels, het Hy alles vir hulle verder verduidelik. Teen die aand sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe.” Hulle het die skare toe agtergelaat en Jesus – Hy was immers alreeds in die skuit – sommer net so saamgeneem (alhoewel daar ander skuite agternagekom het). Daar het ’n hewige stormwind opgekom. Groot golwe het teen die skuit gebreek, met die gevolg dat dit alreeds vol water begin word het. Jesus het agter in die skuit gelê en slaap met sy kop op ’n kussing. Sy dissipels maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Leermeester, gee U nie om dat ons besig is om te vergaan nie?” Jesus het opgestaan, die stormwind ernstig aangespreek en vir die see gesê: “Bedaar! Word kalm!” Toe het die wind gaan lê en daar het ’n groot rustigheid gekom. Hy vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so verskrik? Vertrou julle My nog steeds nie?” Hulle was heeltemal oorweldig en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy werklik? Selfs die wind en die see luister na Hom!”
Lees MARKUS 4
Luister na MARKUS 4
Deel
Vergelyk alle weergawes: MARKUS 4:21-41
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's