MARKUS 15:15-27, 29, 31-39

MARKUS 15:15-27 NLV

Omdat Pilatus die skare graag hulle sin wou gee, het hy toe vir Barabbas vrygelaat, maar vir Jesus het hy aan die soldate oorgegee om Hom met gésels te slaan en daarna te kruisig. Die soldate het Jesus toe na hulle hoofkwartier gebring. Toe roep hulle die hele regiment bymekaar en trek vir Hom ’n pers mantel aan. Hulle vleg toe ook ’n kroon van dorings en sit dit op sy kop. Daarop begin hulle Hom salueer met die woorde: “Ons groet u, o Koning van die Jode!” Hulle slaan Hom toe met ’n riet teen sy kop, spoeg op Hom en maak kniebuigings asof hulle eer aan Hom wil betoon. Toe hulle moeg geword het om die spot met Hom te dryf, het hulle die pers mantel uitgetrek en Hom weer sy eie klere aangetrek. Toe vat hulle Hom weg om Hom te gaan kruisig. ’n Man met die naam Simon, wat van Sirene afkomstig was, kom toe juis van buite die stad af by hulle verby – hy was die pa van Aleksander en Rufus. Die soldate kommandeer hom toe op om Jesus se kruis te dra. Toe bring hulle Hom na ’n plek met die naam Golgota – dit beteken Kopbeenplek. Hulle wou Hom toe wyn wat met mirre gekruie was, gee om te drink, maar Hy wou dit nie neem nie. Daarna het hulle Hom gekruisig. Hulle het sy klere verdeel deur met dobbelsteentjies daaroor te beslis. Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het. ’n Plakkaat bokant Jesus se kop het die rede vir sy veroordeling uitgespel: “Die Koning van die Jode.” Saam met Hom het hulle ook twee kriminele gekruisig, een aan elke kant.

MARKUS 15:29 NLV

Die verbygangers het net spottend hulle koppe geskud en Hom toegesnou: “Ha-ha, jy kan mos die tempel afbreek en dit weer in drie dae opbou!

MARKUS 15:31-39 NLV

Die priesterhoofde en die skrifkenners het ook onder mekaar met Jesus gespot en gesê: “Foeitog, hy het ander gered, maar hy kan homself nie red nie. Hy is dan glo die Messias, die Koning van Israel. Laat hy nou afkom van die kruis! Dan sal ons sien en glo!” Selfs die kriminele wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig. Om twaalfuur het dit oor die hele land donker geword tot drie-uur daardie middag. Dit was toe dat Jesus baie hard uitgeskreeu het: “ Eloï, Eloï, lemá sabagtani? ” As ’n mens dit vertaal, beteken dit: “My God, my God, hoekom het U My verlaat?” Party van die omstanders het dit misverstaan en gedink Hy roep die profeet Elia. Toe hardloop iemand, maak ’n spons vol suur wyn, sit dit op ’n riet en gee dit vir Hom om te drink. Hy sê toe: “Wag, kom ons kyk of Elia hom kom afhaal!” Maar Jesus het hard uitgeroep en sy laaste asem uitgeblaas. Daarna het die swaar gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo tot onder. Toe die Romeinse offisier oor honderd wat reg voor Hom gestaan het, Jesus só sien sterf, was sy woorde: “Waarlikwaar, hierdie man was die Seun van God!”