MARKUS 12:38-44

MARKUS 12:38-44 NLV

In sy onderrig het Jesus ook nog gesê: “Oppas vir die skrifkenners! Hulle hou daarvan om met swierige klere te paradeer en om op die dorpspleine begroet te word. En hoe verlustig hulle hulle nie in die ereplekke in die sinagoges en by feesmaaltye nie! Hulle beroof die weduwees skaamteloos van hulle huise en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal hulle ekstra swaar gestraf word.” Jesus het regoor die offerkis gaan sit en gekyk hoe die skare hulle geld in die kis gooi. In die proses het baie welgesteldes groot bedrae geld ingegooi. Toe kom daar ’n brandarm weduwee en sy gooi net twee klein geldstukkies in. Daarop roep Jesus sy dissipels na Hom toe en sê vir hulle: “Weet vir seker, hierdie arm weduwee het meer in die offerkis gegooi as al die ander. Julle sien, almal het ingegooi vanuit hulle oorvloed, maar sy het, arm soos sy is, alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor MARKUS 12:38-44