MATTEUS 2:16-20

MATTEUS 2:16-20 NLV

Toe Herodes agterkom dat die sterrekundiges hom uitoorlê het, was hy siedend van woede. Hy het soldate gestuur om in en rondom Betlehem al die seuntjies van twee jaar en jonger om die lewe te bring. Hy het die twee jaar bereken volgens die tyd wat hy by die sterrekundiges vasgestel het. Daarmee is Jeremia se uitspraak vervul: “’n Smartkreet word gehoor in Rama, ’n gesnik en ’n bitter geklaag. Ragel huil oor haar kinders. Sy wil maar net nie vertroos word nie, want hulle is dood.” Ná Herodes se dood verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê vir hom: “Staan op en neem die Kindjie en sy ma terug na die land Israel, want die mense wat die Kindjie om die lewe wou bring, is dood.”