Hierna het Jesus, gevul met die krag van die Heilige Gees, na Galilea teruggegaan. Hy het deur die hele omgewing bekend geword. Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys.
Toe Hy kom in sy tuisdorp Nasaret waar Hy grootgeword het, het Hy soos gewoonlik op die Sabbat na die sinagoge gegaan en opgestaan om die Skrif te lees. Die boekrol wat Jesaja die profeet bevat, is aan Hom gegee en Hy het dit oopgerol tot by die plek waar dit sê:
“Die Gees van die Here is op My
omdat Hy My aangestel het
om die Goeie Nuus
vir die armes aan te kondig.
Hy het My gestuur om aan te
kondig
dat gevangenes vrygelaat sal
word,
dat blindes sal sien,
dat onderdruktes bevry sal word
van hulle verdrukkers,
en dat die tyd van die Here
se goedheid gekom het.”
Hy het die boekrol opgerol, dit aan die amptenaar teruggegee en gaan sit. Almal in die sinagoge het stip na Hom gekyk. Toe sê Hy: “Hierdie Skrif is vandag bewaarheid onderwyl julle daarna geluister het!”
Almal wat daar was, het goed van Hom gepraat en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond. “Hoe is dit moontlik?” het hulle gevra. “Is hy dan nie Josef se seun nie?”
Toe het Jesus gesê: “Miskien sal julle die spreekwoord vir My aanhaal: ‘Geneesheer, genees jouself’ met die bedoeling: ‘Waarom doen jy nie hier in jou tuisdorp die wonderwerke wat jy in Kapernaum gedoen het nie?’ Maar die waarheid is, ’n profeet word nie in sy tuisdorp aanvaar nie.
“Daar was sekerlik baie weduwees in Israel wat hulp nodig gehad het in Elia se tyd toe dit drie en ’n half jaar nie gereën het nie en hongersnood in die land geheers het. Tog is Elia nie na enige van hulle gestuur nie, maar wel na ’n weduwee in Sarfat – ’n vreemdeling in die gebied van Sidon. Of dink aan die profeet Elisa wat Naäman die Siriër genees het, eerder as die baie mense in Israel wat aan ernstige velsiektes gely het.”
Toe die mense in die sinagoge dít hoor, was hulle woedend. Hulle het opgespring, Hom omsingel en Hom uit die dorp geneem tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was.
Hulle wou Hom oor die krans stoot, maar Hy het tussen die skare deurgeglip en weggegaan.
Jesus is toe na Kapernaum, ’n dorp in Galilea, en het die mense elke Sabbatdag daar in die sinagoge geleer. Die mense daar was ook verbaas oor die dinge wat Hy gesê het, want Hy het met gesag gepraat.
Op ’n dag toe Hy in die sinagoge was, het ’n man in wie daar die gees van ’n onrein demoon was, begin skree: “Gaan weg! Waarom pla jy ons, Jesus van Nasaret? Het jy gekom om ons te vernietig? Ek weet wie jy is: Die Heilige wat deur God gestuur is!”
Jesus het hom kortgevat. “Bly stil!” het Hy vir die bose gees gesê. “Kom uit die man uit!” Die bose gees het die man daar voor almal op die vloer gegooi; toe het die bose gees uit hom gegaan sonder om hom verder seer te maak.
Die mense het verbaas uitgeroep: “Watter gesag en mag het hierdie man se woorde nie! Selfs bose geeste gehoorsaam hom en vlug op sy bevel!” Die berig oor wat Jesus gedoen het, het soos ’n veldbrand deur die hele streek versprei.
Nadat Hy die sinagoge verlaat het, is Jesus na Simon se huis waar Simon se skoonma baie siek met ’n hoë koors was. “Maak haar asseblief gesond,” het almal gesmeek.
Hy het by haar bed gaan staan, die koors bestraf, en sy het dadelik gesond geword. Sy het onmiddellik opgestaan en ’n maaltyd vir hulle voorberei.
Met sononder daardie dag het almal hulle siekes na Jesus toe gebring. Ongeag watter siektes hulle gehad het, Jesus het hulle aangeraak en almal genees. Sommige was van bose geeste besete en die bose geeste het op sy bevel uitgekom terwyl hulle skree: “U is die Seun van God.” Maar omdat hulle geweet het dat Hy die Messias is, het Hy hulle tereggewys en verbied om daaroor te praat.
Vroeg die volgende môre het Jesus na ’n verlate plek vertrek. Die skares het oral na Hom gesoek, en toe hulle Hom uiteindelik kry, het hulle Hom gesmeek om hulle nie te verlaat nie. Maar Hy het geantwoord: “Ek moet die Goeie Nuus van die koningsheerskappy van God in ander plekke ook verkondig, want dit is waarvoor Ek gestuur is.”
Hy het dus voortgegaan om in die Joodse sinagoges te preek.