LUKAS 23:33-43

LUKAS 23:33-43 NLV

Toe hulle by die plek aankom wat Kopbeen genoem word, het hulle Jesus daar gekruisig, asook die misdadigers – een aan Jesus se regter- en een aan sy linkerkant. Daarop het Jesus gesê: “Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!” Hulle het ook sy klere verdeel deur die lot te werp. Die volk het net daar gestaan en toekyk. En die leiers het aangehou om Hom te bespot met dié woorde: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Messias, die uitverkorene van God is!” Ook die soldate het vorentoe beweeg en Jesus gespot. Hulle het vir Hom asynwyn aangebied en gesê: “As jy die Koning van die Jode is, red jouself.” Daar was ook ’n kennisgewing bokant Jesus se kop: “Hierdie man is die Koning van die Jode.” Een van die misdadigers wat daar gehang is, het Jesus aanhou beledig deur te sê: “Is jy dan nie die Messias nie? Red jouself en ook vir ons!” Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy óók nie respek vir God nie, alhoewel jy dieselfde straf as hierdie man ondergaan! Ons het dit terdeë verdien, want ons verdien die straf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” Hy het verder gesê: “Jesus, onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus se antwoord was: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.”