LUKAS 16:14-31

LUKAS 16:14-31 NLV

Die Fariseërs wat baie lief was vir hulle geld het natuurlik hiermee gespot. Hy sê toe vir hulle: “Julle wil graag in die openbaar goed voorkom, maar God ken julle bose harte. Wat hierdie wêreld vereer, is ’n gruwel in die oë van God. “Totdat Johannes die Doper begin preek het, was die wette van Moses en die profete julle riglyn. Maar van toe af word die Goeie Nuus van God se koningsheerskappy verkondig en gretige skares trek op. Dit beteken egter nie dat die wet sy geldigheid verloor het nie. Dit bly van krag tot in sy fynste besonderheid. Dit is sterker en meer blywend as hemel en aarde. “Enigiemand wat van sy vrou skei en met iemand anders trou, maak hom skuldig aan huweliksverbreking, en enigeen wat ’n geskeide vrou trou, maak hom ook skuldig aan huweliksverbreking.” Jesus het gesê: “Daar was ’n ryk man wat pragtig aangetrek het en sorgeloos in weelde geleef het. Voor sy deur het ’n siek bedelaar genaamd Lasarus gelê. Terwyl Lasarus daar gelê en begeer het om van die oorskiet van die ryk man se tafel te kon kry, het die honde aan sy oop sere kom lek. Uiteindelik is die bedelaar dood, en hy is deur die engele weggedra om by Abraham te wees. Die ryk man het ook gesterf en is begrawe. Hy het sy oë in die doderyk oopgemaak en terwyl hy gefolter word, het hy Lasarus in die verte by Abraham gesien. “Die ryk man het geroep: ‘Vader Abraham, ontferm u oor my! Stuur vir Lasarus hierheen om die punt van sy vinger in water te steek en my tong af te koel, want ek ly verskriklik in hierdie vlamme!’ “Maar Abraham het vir hom gesê: ‘Kind, onthou gedurende jou leeftyd het jy alles gehad wat jy wou hê, en Lasarus niks. Maar nou is hy hier en word vertroos, en jy word gepynig. En buitendien is daar ’n groot kloof wat ons skei. Enigeen wat van hier na julle wil oorgaan, word op die rand gestuit, en niemand van daar af kan na ons toe oorkom nie.’ “Toe sê die ryk man: ‘Asseblief, vader Abraham, stuur hom na my pa se huis toe. Want ek het vyf broers, en ek wil hê hy moet hulle waarsku teen hierdie plek van pyniging sodat hulle nie hier beland wanneer hulle sterf nie.’ “Maar Abraham het gesê: ‘Hulle het Moses en die profete om hulle te waarsku. Jou broers kan hulle geskrifte enige tyd lees wanneer hulle wil.’ “Die ryk man het geantwoord: ‘Nee, vader Abraham! Maar as iemand uit die dood na hulle gestuur word, sal hulle tot inkeer kom.’ “Maar Abraham het gereageer: ‘As hulle nie na Moses en die profete luister nie, sal hulle ook nie luister nie selfs al sou iemand uit die dood opstaan.’”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid