LUKAS 15:11-19

LUKAS 15:11-19 NLV

Om dié punt verder te verklaar, het Jesus vir hulle die volgende verhaal vertel: “’n Man het twee seuns gehad. Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Ek wil my deel van die boedel nou hê, eerder as om te wag tot Pa doodgaan.’ Die pa het toe ingestem om sy goed tussen sy twee seuns te verdeel. “’n Paar dae later het hierdie jonger seun al sy besittings in geld omskep, na ’n ver land gereis, en daar al sy geld verkwis met ’n uitspattige lewe. Teen die tyd dat sy geld opgeraak het, het ’n groot hongersnood oor die land gekom en hy het begin honger ly. Hy kry toe werk by ’n plaaslike boer en dié het hom die veld ingestuur om varke op te pas. Die seun het só honger geword dat selfs die peule wat die varke gevreet het, vir hom smaaklik gelyk het. Maar niemand het hom enigiets gegee om te eet nie. “Toe hy uiteindelik tot sy sinne kom, het hy vir homself gesê: ‘By die huis het selfs die gehuurde werkers meer as genoeg kos, en hier is ek besig om van honger dood te gaan! Ek sal teruggaan na my pa toe en vir hom sê: Pa, ek het gesondig teen die hemel én teen Pa; ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie. Neem my asseblief in diens as ’n gehuurde werker.’

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid