LUKAS 1:5-13

LUKAS 1:5-13 NLV

Dit het alles begin by ’n Joodse priester, Sagaria, gedurende die tyd toe Herodes koning van Judea was. Hy was lid van die diensgroep van Abia. Sy vrou, Elisabet, het ook uit die priesterlyn van Aäron afgestam. Sagaria en Elisabet het reg gelewe voor God: hulle het al die Here se bevele en voorskrifte nagekom. Hulle het nie kinders gehad nie omdat Elisabet onvrugbaar was en hulle albei al oud was. Eendag was Sagaria besig om God in die tempel te dien, want sy diensgroep was dié week aan diens. Volgens die gewoonte van priesters is hy deur die lot aangewys om die heiligdom in te gaan en wierook op die altaar te brand. Terwyl die wierook gebrand het, het ’n groot skare buite gestaan en bid. Terwyl Sagaria in die heiligdom was, verskyn ’n engel van die Here aan hom, regs van die wierookaltaar. Sagaria het hom lam geskrik toe hy die engel sien. Maar die engel sê: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want God het jou gebed gehoor en jou vrou, Elisabet, sal vir jou ’n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem.