LEVITIKUS 26
26
Seën vir gehoorsaamheid
1“Julle mag nie afgode of gesnede beelde maak, of heilige pilare of gekapte klippe oprig om in julle land te aanbid nie. Ek, die Here, is julle God. 2Julle moet my Sabbatdae onderhou en eerbied hê vir my heiligdom. Ek is die Here.
3“As julle my reëls nakom en my gebooie noukeurig gehoorsaam, 4sal Ek dit laat reën op die regte tyd. Die land sal dan sy opbrengs lewer en die bome sal vrugte dra. 5Julle sal graan oes totdat dit tyd is vir die druiwe-oes. Julle druiwe-oes sal weer duur totdat dit tyd is om graan te plant. Julle sal genoeg hê om te eet en in veiligheid in die land woon.
6“Ek sal vir julle vrede gee in die land en julle sal gaan slaap sonder om bang te wees. Ek sal die wilde diere uit julle land wegneem en julle van julle vyande bewaar. 7Om die waarheid te sê, julle sal julle vyande agtervolg en hulle met julle swaarde vernietig. 8Net vyf van julle sal 100 agtervolg en 100 van julle sal 10 000 agtervolg. Al julle vyande sal onder julle wapens tot ’n val kom.
9“Ek sal julle my guns bewys, Ek sal julle baie laat word en Ek sal my verbond met julle nakom. 10Julle sal so ’n surplus oesopbrengste hê dat julle van die vorige jaar se oes sal moet ontslae raak om plek te maak vir die nuwe oes. 11Ek sal by julle woon en Ek sal My nie vir julle skaam nie. 12Ek sal by julle wees, Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees.
13“Ek, die Here, is julle God wat julle uit Egipte gebring het sodat julle nie langer meer slawe hoef te wees nie. Ek het die juk van slawerny van julle nekke afgehaal sodat julle vry kan wees en kop omhoog kan loop.”
Straf vir ongehoorsaamheid
14“As julle egter nie na My luister of my gebooie gehoorsaam nie, 15en as julle my verbond verbreek deur my reëls te verwerp en my regulasies te minag, 16sal Ek die volgende met julle laat gebeur: Ek sal paniek onder julle saai. Julle sal aan siektes en koors ly, siektes wat julle blind sal maak en julle lewe laat wegkwyn. Julle sal tevergeefs graan plant, want julle vyande sal dit opeet. 17Ek sal my rug vir julle draai en al julle vyande sal julle verslaan. Hulle sal oor julle heers en julle sal weghardloop al is daar niemand wat julle agtervolg nie!
18“As julle ten spyte van al hierdie dinge nog steeds ongehoorsaam bly, sal Ek julle nog sewevoudig vir julle sonde straf. 19Ek sal julle hardkoppige trotsheid breek deur die reën weg te hou: die lug bokant julle sal soos yster wees en die grond onder julle soos brons. 20Al julle werk sal verniet wees, want daar sal geen oes op die lande of vrugte aan die bome wees nie.
21“As julle nog steeds vyandig teenoor My bly en weier om gehoorsaam te wees, sal Ek julle tref met nog sewe rampe. 22Ek sal wilde diere op julle loslaat wat julle kinders sal vang en julle beestroppe sal vernietig. Julle getalle sal so afneem dat julle paaie verlate is.
23“As julle nog nie ’n les geleer het uit hierdie dinge nie, en julle vyandigheid teen My voortsit, 24sal Ek vyandig word teenoor julle. Ek sal julle persoonlik tref met nog sewe rampe vir julle sonde. 25Ek sal leërs teen julle uitstuur om hierdie verbondsdreigemente uit te voer. As julle na julle stede toe vlug, sal Ek ’n plaag daar laat uitbreek om julle te vernietig en julle vyande sal julle oorwin. 26Ek sal julle kosvoorrade so uitdun dat tien vroue net genoeg het vir een baksel. Julle kos sal volgens gewig gerantsoeneer word. Al is daar kos om te eet, sal dit nie genoeg wees om julle te versadig nie.
27“As julle ná al hierdie dinge nog steeds weier om te luister en vyandig bly teen My, 28sal my vyandigheid teenoor julle nog erger word. Ek sal julle sewevoudig straf vir julle sondes. 29Julle sal die vleis van julle eie seuns en dogters eet. 30Ek sal julle heidense heiligdomme vernietig en julle wierookaltare afbreek. Ek sal julle lyke laat ophoop langs julle lewelose afgode. Ek sal julle verafsku. 31Ek sal julle stede verlate maak en julle aanbiddingsplekke verwoes. Julle offers sal vir My glad nie aangenaam wees nie. 32Ek sal self julle land so verwoes dat die vyand wat dit in besit neem geskok sal staan oor die verwoesting daarvan. 33Ek sal julle verstrooi onder die nasies en julle met my eie wapens aanval. Julle land sal verlate wees en julle stede sal blote ruïnes wees. 34Wanneer die land so verlate lê gedurende die jare van julle ballingskap in die land van julle vyandskap, sal dit sy verlore Sabbatsjare inhaal. Dan sal die land uiteindelik kan rus en sy Sabbatte geniet. 35Wanneer die land in puin lê, sal dit die rus neem wat julle dit nooit elke sewe jaar gegee het toe julle nog daar gewoon het nie.
36“Vir dié van julle wat oorleef, sal Ek so bang maak in die land van julle vyande dat julle in voortdurende vrees sal lewe. Selfs die geluid van ’n blaar in die wind sal julle op die vlug laat slaan. Julle sal hardloop asof ’n soldaat agter julle aan is met ’n swaard en julle sal val al agtervolg niemand julle nie. 37Selfs al is daar niemand wat julle jaag nie, sal julle oor mekaar val terwyl julle vlug, asof julle in ’n oorlog wegvlug van julle vyand. Julle sal geen krag hê teen julle vyande nie. 38Julle sal tussen vreemde nasies tot sterwe kom en die land van julle vyande sal julle vernietig. 39Dié wat oorbly, sal in die land van julle vyande wegkwyn as gevolg van hulle sonde en die sonde van hulle voorouers.
40“Maar my volk sal hulle sondes en die sondes van hulle voorouers bely. Hulle het My verraai en het my vyand geword. 41Daarom het Ek ook hulle vyand geword en hulle in die land van hulle vyande gebring. Uiteindelik sal hulle ongehoorsame harte nederig word en sal hulle betaal vir hulle sondes. 42Dan sal Ek my verbond met Jakob, Isak en Abraham onthou. Ek sal ook die land onthou. 43Die land moet egter eers sy jare van Sabbatsrus geniet soos wat dit nou verlate lê. Die volk sal hulle volle straf vir hulle sondes moet kry. Hulle het immers my reëls verwerp en my regulasies geminag.
44“Maar ten spyte van al hierdie dinge sal Ek hulle nie heeltemal verwerp of verag terwyl hulle in ballingskap in die land van hulle vyande is nie. Ek sal my verbond met hulle nie tot niet maak deur hulle uit te wis nie. Ek, die Here, is hulle God. 45Ek sal die verbond met hulle voorouers wat Ek uit Egipte gebring het ten aanskoue van al die nasies om hulle God te wees in herinnering roep. Ek is die Here.
46“Dit is die voorskrifte, die reëls en regulasies wat die Here aan die Israeliete deur Moses op Sinaiberg gegee het.”
Tans Gekies:
LEVITIKUS 26: NLV
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011