JOSUA 21

21
Blyplekke vir die Leviete
1Die leiers van die Leviete het die priester Eleasar, Josua die seun van Nun en die hoofde van die Israelitiese stamme ontmoet. 2Hulle het in Silo in die land van Kanaän met hulle gepraat: “Die Here het vir Moses die opdrag gegee dat ons stede moet kry om in te woon en weiveld vir ons vee.”
3Die Israeliete het vervolgens die opdrag van die Here uitgevoer en in hulle gebiede dorpe met weiveld vir die Leviete gegee.
4Hulle het met die lot beslis om vir die Kehatgroep dertien dorpe te gee. Hulle was uit die nageslag van die priester Aäron. Hierdie dorpe was in die gebiede van Juda, Simeon en Benjamin.
5Vir die res van die ander lede van die Kehatgroep is tien dorpe geloot in die gebiede van die families van die stamme Efraim, Dan en die een helfte van Manasse.
6Hulle het deur loting vir die Gersongroep dertien dorpe in die gebiede van die families van die stamme Issaskar, Aser, Naftali en die halwe stam van Manasse in Basan gegee.
7Die families van die Merarigroep het twaalf dorpe in die gebied van Ruben, Gad en Sebulon gekry.
8Die Israeliete het gemaak soos die Here vir Moses gesê het en hierdie dorpe met hulle weivelde vir die Leviete gegee volgens loting.
9In die gebied van Juda en Simeon het hulle dorpe gegee 10aan die Leviete uit die nageslag van Aäron wat aan die Kehatgroep behoort het. Hulle loting het eerste aan die beurt gekom. 11Hulle het Kirjat-Arba (dit is Hebron) gekry in die heuwels van Juda, met sy weivelde rondom. Arba was ’n voorsaat van die Enakiete. 12Die veld en klein dorpies rondom die dorp was egter Kaleb, die seun van Jefunne, se eiendom.
13Die priester Aäron se nageslag het ontvang: Hebron, waarheen iemand vir beskerming kon vlug, Libna, 14Jattir, Estemoa, 15Golon, Debir, 16Ajin, Jutta en Bet-Semes, elkeen met sy weiveld. Dit was nege dorpe in die gebied van hierdie twee stamme.
17In Benjamin se gebied het hulle Gibeon, Geba, 18Anatot en Almon, elkeen met sy weiveld, gekry. 19Die priesters uit die nageslag van Aäron het dus altesaam dertien dorpe met hulle weivelde gekry.
20In die gebied van Efraim is vir die res van die Kehatgroep, wat uit die nageslag van Levi kom, deur die lot toegewys: 21Sigem in die Efraimsberge waarheen mense kon vlug wat ’n ander per ongeluk doodgemaak het, Geser, 22Kibsajim en Bet-Goron; dus vier dorpe met hulle weivelde.
23In die gebied van Dan het hulle die vier dorpe Elteke, Gibbeton, 24Ajalon en Gat-Rimmon met hulle weivelde gekry.
25In die gebied van die halwe Manassestam het hulle die twee dorpe Taänak en Gat-Rimmon met hulle weivelde gekry.
26Die Kehatgroep het altesaam dus tien plekke met hulle weivelde gekry.
27Die Gersongroep van die Leviete het in die gebied van die ander helfte van die Manassestam die toevlugsoord Golan in Basan en Astarot met hulle weivelde gekry.
28In die gebied van Issaskar is die vier dorpe Kisjon, Daberat, 29Jarmut en En-Gannim met hulle weivelde aan hulle toegewys.
30In die gebied van Aser het hulle die vier plekke Misal, Abdon, 31Gelkat en Regob met hulle weivelde gekry.
32In Naftali se gebied is die asielstad Kedes in Galilea, Gammot-Dor en Kartan met hulle weivelde vir hulle gegee.
33In totaal het die Gersongroep dus dertien dorpe met weivelde gehad.
34Aan die res van die Levitiese families, dit is die Merarigroep, is in die gebied van Sebulon Jokneam, Karta, 35Dimna en Nahalal, hierdie vier plekke, elkeen met sy weiveld, gegee.
36In die gebied van Ruben het hulle die vier plekke Beser, Jahas, 37Kedemot en Mefaät met hulle weivelde gekry.
38In Gad se gebied het hulle Ramot in Gilead, waarheen mense kon vlug, Maganajim, 39Gesbon en Jaser met hulle weivelde gekry.
40Twaalf plekke is dus vir die oorblywende Merarigroep geloot.
41In totaal is daar dus 48 dorpe met hulle weivelde in die gebied van die ander Israeliete vir die Leviete geloot. 42Elkeen van hierdie plekke het weiveld rondom hom gehad.
43So het die Here vir Israel die hele land gegee wat Hy met ’n eed aan hulle voorouers beloof het. Hulle het die land ingeneem en hulle daar gevestig. 44Die Here het vir hulle vrede met almal rondom hulle gegee, soos Hy plegtig aan hulle voorouers beloof het. Nie een van al hulle vyande was opgewasse teen hulle nie. Die Here het hulle gesag oor al hulle vyande gegee. 45Nie een van al die goeie dinge wat die Here vir Israel beloof het, het agterweë gebly nie. Elkeen van hulle het gebeur.

Tans Gekies:

JOSUA 21: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid