JOSUA 19

19
Simeon se gebied
1Die tweede loting was vir die grond van die families van die stam Simeon. Hulle deel het binne die grond van Juda gelê.
2Hulle gebied het ingesluit Berseba, Seba, Molada, 3Gasar-Sual, Baäla, Esem, 4Eltolad, Betul, Gorma, 5Siklag, Bet-Markabot, Gasar-Susim, 6Bet-Lebaot en Sarugen. Dit was altesaam dertien dorpe met hulle dorpies rondom.
7Ajin, Rimmon, Eter en Asan was ook hulle s’n. Dit was vier dorpe met hulle omringende blyplekke. 8Hulle het ook die klein dorpies rondom hierdie dorpe gekry, tot so ver suid as Baälat-Beër (Rama in die Negevwoestyn).
Dit is die grond van die families van die stam Simeon. 9Hulle het ’n deel van Juda se gebied gekry. Juda se grond was te groot vir hulle. So het die stam Simeon grond binne-in Juda se gebied ontvang.
Sebulon se gebied
10Die derde loting het die grond van die families van die stam Sebulon bepaal.
Hulle grond het tot by Sarid gestrek. 11Van Sarid loop dit wes by Marala verby, teen Dabbeset af en teen die spruit regoor Jokneam verby.
12Terug by Sarid loop die grens oos tot by die grens met Kislot-Tabor, van daar na Daberat en dan op na Jafia toe. 13Van daar gaan dit oos na Gat-Gefer en na Et-Kasin toe en aan tot by Rimmon, waar dit na Nea toe draai. 14Van daar swaai die grens noord verby Gannaton en eindig in die vallei van Ge-Jiftag-El.
15Die dorpe wat hulle gekry het, was Kattat, Nahalal, Simron, Jidala en Betlehem. Daar was altesaam twaalf dorpe met hulle kleiner dorpies rondom.
16Hierdie dorpe met hulle omringende blyplekke was die gebied van die families van die stam Sebulon.
Issaskar se gebied
17Die vierde loting was vir grond vir die families van die stam Issaskar.
18Hulle dorpe was Jisreël, Kesulot, Sunem, 19Gafarajim, Sion, Anagarat, 20Rabbit, Kisjon, Ebes, 21Remet, En-Gannim, En-Gadda en Bet-Passes. 22Hulle grens is teen Tabor, na Sagasajim en by Bet-Semes verby en loop dood teen die Jordaan. Daar is sestien dorpe met hulle kleiner dorpies rondom.
23Hierdie dorpe met hulle klein dorpies is die gebied van die families van die stam Issaskar.
Aser se gebied
24Die vyfde keer toe die lot gewerp is, was dit vir die families van die stam Aser.
25Hulle gebied het bestaan uit Gelkat, Gali, Beten, Aksaf, 26Alammelek, Amad en Misal. Aan die westekant loop die grens teen Karmel en Sigor-Libnat verby. 27Dit swaai dan oos na Bet-Dagon toe, gaan teen Sebulon en Ge-Jiftag-El verby noord na Bet-Emek en Neïel toe en loop dan aan na Kabul in die noorde. 28Van daar gaan dit na Abdon, Regob, Gammon en Kana tot by Groot-Sidon. 29Dan draai die grens af na Rama toe en tot by die versterkte stad Tirus, dan verder na Gosa toe en die Middellandse See in die omgewing van Megebel, Aksib, 30Uma, Afek en Regob. Daar is 22 dorpe met hulle dorpies rondom.
31Hierdie dorpe met hulle omringende dorpies was die grond van die families van die stam Aser.
Naftali se gebied
32Die sesde keer se loting was vir die grond van die families van die stam Naftali.
33Hulle grens begin by Gelef, by die groot boom by Saänannim, en loop dan oor Adami-Nekeb, Jabneël, Lakkum en tot by die Jordaanrivier. 34Die grens aan die westekant is van Asnot-Tabor dan na Gukok toe, teenaan die grens met Sebulon aan die suidekant verby en teenaan die grens met Aser aan die westekant verby tot teen die Jordaanrivier aan die oostekant. 35Die versterkte dorpe het ingesluit Siddim, Ser, Gammat, Rakkat, Gennesaret, 36Adama, Rama, Hasor, 37Kedes, Edreï, En-Gasor, 38Jiron, Migdal-El, Gorem, Bet-Anat en Bet-Semes. Dit was negentien dorpe met hulle dorpies rondom.
39Hierdie dorpe en hulle omringende dorpies het aan die families van die stam Naftali behoort.
Dan se deel
40Vir die families van die stam Dan is ’n sewende keer geloot.
41In hulle grondgebied was Sora, Estaol, Ir-Semes, 42Saälbim, Ajalon, Jitla, 43Elon, Timna, Ekron, 44Elteke, Gibbeton, Baälat, 45Jehud, Bene-Berak, Gat-Rimmon, 46Me-Jarkon en Rakkon saam met die gebied teenoor Joppe.
47Dan het egter sy gebied verloor. Hulle het toe opgetrek en Lesem aangeval en verower. Hulle het die inwoners doodgemaak, die stad ingeneem en daar gaan woon. Hulle het Lesem se naam verander en dit na hulle voorvader Dan vernoem.
48Hierdie dorpe met hulle omringende dorpies het vroeër aan die families van die stam Dan behoort.
Josua kry grond
49Nadat die Israeliete die land onder mekaar verdeel het, het hulle ook vir Josua, die seun van Nun, ’n stuk grond tussen hulle gegee.
50Die Here het hulle beveel om die stad te gee wat hy gekies het. Hy het Timnat-Serag in die heuwels van Efraim gekies. Josua het die stad herbou en daar gaan woon.
51Dit was dan die gebiede wat die priester Eleasar en Josua seun van Nun saam met die familiehoofde aan die Israelitiese stamme toegeken het. Hulle het voor die Here by die ingang van die tabernakel in Silo geloot oor die verdeling van die land. So is die verdeling van die land afgehandel.

Tans Gekies:

JOSUA 19: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid