JOB 31:1-23

JOB 31:1-23 NLV

“Ek het myself belowe dat ek nooit na ’n jong meisie sal kyk om haar te begeer nie. Wat het God daarbo vir ons gekies? Wat is ons erfdeel van die Almagtige? Dit is ellende vir die kwaaddoener en rampe vir die boosdoener. Sien Hy nie hoe ek optree nie? Tel Hy nie elke tree wat ek gee nie? “Het ek ooit vir iemand gelieg, of iemand bedrieg? Laat God my dan weeg met die regte maatstaf. Hy ken my onskuld. Het ek van die regte pad afgedwaal? Of het ek iets begeer wat ek gesien het? Is ek skuldig aan enige ander sonde? Laat iemand anders dan oes wat ek geplant het en alles uitpluk wat ek gesaai het. “As ek verlei is deur ’n vrou of my buurman se vrou begeer het, mag my vrou aan ’n ander behoort en ander mans by haar slaap. Want wellus is ’n skandelike sonde, ’n misdaad wat gestraf moet word. Dit is ’n vernietigende vuur. Dit sou alles verwoes het wat ek besit. “As ek onregverdig was teenoor my manlike en vroulike werkers, of geweier het om na hulle te luister, hoe sou ek God in die oë kon kyk wanneer Hy my tot verantwoording roep? Wat sou ek antwoord as Hy my daaroor ondervra? Want Hy het my en my werkers gemaak. Hy is ons almal se Skepper. “Het ek geweier om die armes te help? Of die hoop vernietig van die weduwees wat na my gekyk het vir hulp? Was ek suinig met my kos en het ek geweier om dit te deel met honger weeskinders? Nee! Van jongs af sorg ek vir weeskinders soos ’n pa. My hele lewe lank gee ek om vir weduwees. Waar ek ook al mense dakloos en ’n arm man sonder klere gesien het, het hulle my geprys omdat ek vir hulle wolklere gegee het om hulle warm te hou. As ek gewelddadig was teenoor ’n weeskind omdat ek gedink het ek sou daarmee wegkom – mag my arm dan uit sy potjie gedraai word! Mag my arm van my skouer afgeruk word! Dit sou beter wees as om onder die oordeel van God te kom. Want as ek teen die Allerhoogste moet staan, watter hoop is daar vir my?