Toe het Jesus vir die Jode wat tot geloof in Hom gekom het, gesê: “As julle in ’n noue verbintenis aan my boodskap leef, is julle my egte navolgers; en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die afstammelinge van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe sê jy dan: ‘Julle sal bevry word’?” Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle, elkeen wat aanhou sonde doen, is ’n slaaf van die sonde. Die slaaf bly tog nie vir altyd in die huis nie; die seun bly wel vir altyd. As die Seun julle dus bevry, sal julle regtig vry wees. Ek is daarvan bewus dat julle die afstammelinge van Abraham is. En tog beywer julle julle om My dood te maak omdat julle nie my boodskap wil aanvaar nie. Ek praat oor wat Ek by mý Vader gesien het; en julle doen wat julle by júlle pa gehoor het.” Hulle het daarop reageer: “Abraham is ons pa.” Jesus antwoord hulle: “As julle ware kinders van Abraham was, sou julle doen wat Abraham gedoen het. En nou wil julle My doodmaak – die Een wat die waarheid wat Ek by God gehoor het, aan julle kom meedeel. Dít is nie wat Abraham gedoen het nie. Julle doen net wat júlle pa gedoen het.” Hulle sê toe vir Hom: “Ons is nie uit owerspel gebore nie. Ons het net een Vader, en dit is God.” Jesus het geantwoord: “As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het van God af gekom en is nou hier. Ek het beslis ook nie uit my eie hierheen gekom nie, maar Hy het My gestuur. Waarom verstaan julle nie my boodskap nie? Omdat julle nie kan luister na my boodskap nie. Julle is uit die duiwel as julle pa gebore, en julle wil net doen wat hy as pa van julle verwag. Hy was van die heel begin af ’n mensemoordenaar. En hy is nie in die waarheid nie omdat die waarheid nie in hom is nie. Wanneer hy ook al leuens verkoop, praat hy volgens sy innerlike oortuiging omdat hy ’n leuenaar en ook die vader daarvan is. Omdat Ek die waarheid praat, glo julle My nie. Wie onder julle kan My aankla van sonde? As Ek dan die waarheid praat, waarom glo julle My nie? Wie van God afkomstig is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie omdat julle nie van God afkomstig is nie.” Die Jode het teruggekap: “Het ons nie tereg gesê dat jy ’n Samaritaan en in die mag van ’n bose gees is nie?” Jesus het geantwoord: “Ek het nie ’n bose gees nie, en Ek eer my Vader, maar julle onteer My. Ek soek nie my eie eer nie; daar is Iemand wat my eer soek. Laat Hý hieroor beslis. Ek verseker julle, as iemand my boodskap gehoorsaam, sal hy so nimmer as te nooit sterf nie.”
Lees JOHANNES 8
Luister na JOHANNES 8
Deel
Vergelyk alle weergawes: JOHANNES 8:31-51
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's