JOHANNES 8:21-38

JOHANNES 8:21-38 NLV

Verder het Jesus vir hulle gesê: “Ek gaan weg en julle sal My soek, maar julle sal in julle sonde doodgaan. Waarheen Ek gaan, kan julle nie nou kom nie.” Die Jode het reageer: “Hy gaan tog nie homself om die lewe bring nie – omdat hy sê: ‘Waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie’?” Toe het Hy vir hulle gesê: “Julle is van hieronder. Ek is van daarbo. Julle het julle oorsprong uit hierdie wêreld; Ek het my oorsprong nie uit hierdie wêreld nie. Daarom het Ek vir julle gesê dat julle sal sterf in julle sondes, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes doodgaan.” Hulle vra Hom: “Wie is jy nou eintlik?” Jesus se antwoord was: “Wat het Ek vir julle gesê van die heel begin af? Ek het baie oor julle te sê, en ’n oordeel oor julle uit te spreek, maar Hy wat My gestuur het, is eg en wat Ek by Hom gehoor het, dit deel Ek aan die wêreld mee.” Hulle het nie verstaan dat Hy besig was om die Vader met hulle te bespreek nie. Jesus het daarop vir hulle gesê: “Eers as julle My, die Seun van die Mens, verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is; en dat Ek uit my eie niks doen nie, maar net praat soos die Vader My onderrig het. Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie verlaat nie omdat Ek altyd die dinge doen waarvan Hy hou.” Terwyl Jesus hierdie dinge gesê het, het daar baie mense in Hom begin glo. Toe het Jesus vir die Jode wat tot geloof in Hom gekom het, gesê: “As julle in ’n noue verbintenis aan my boodskap leef, is julle my egte navolgers; en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die afstammelinge van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe sê jy dan: ‘Julle sal bevry word’?” Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle, elkeen wat aanhou sonde doen, is ’n slaaf van die sonde. Die slaaf bly tog nie vir altyd in die huis nie; die seun bly wel vir altyd. As die Seun julle dus bevry, sal julle regtig vry wees. Ek is daarvan bewus dat julle die afstammelinge van Abraham is. En tog beywer julle julle om My dood te maak omdat julle nie my boodskap wil aanvaar nie. Ek praat oor wat Ek by mý Vader gesien het; en julle doen wat julle by júlle pa gehoor het.”