JOHANNES 7:1-9

JOHANNES 7:1-9 NLV

Hierna het Jesus in Galilea rondbeweeg. Hy wou nie in Judea rondgaan nie omdat die Jode Hom daar gesoek het om Hom dood te maak. Die Joodse Huttefees was op hande. Jesus se broers het toe vir Hom gesê: “Gaan tog ’n slag hiervandaan na Judea toe sodat jou dissipels daar ook die wonderdade kan sien wat jy doen. Niemand wat op die voorgrond wil wees, doen enigiets in die geheim nie. As jy dan hierdie dinge doen, gaan maak jou openlik voor al die mense bekend.” Selfs sy broers het nie in Hom geglo nie. Jesus sê toe vir hulle: “My regte geleentheid het nog nie gekom nie, maar julle geleentheid is altyd voor hande. Die mensdom kan julle nie haat nie, maar hy haat My omdat Ek openlik oor hom getuig het dat sy optredes boos is. Gaan julle gerus fees toe. Ek gaan beslis nog nie na hierdie fees toe nie omdat my regte geleentheid nog nie gekom het nie.” Jesus het hulle hierdie dinge meegedeel en Hy het in Galilea agtergebly.