“Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en wie vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe. Ek verseker julle, daar breek ’n uur aan, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor en dié wat dit gehoorsaam, sal lewe. Soos die Vader lewe in Homself het, só het Hy dit ook aan die Seun gegee om lewe in Homself te hê. Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel omdat Hy die Seun van die Mens is. Moenie hieroor verwonderd wees nie: Daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal opstaan. Dié wat goedgedoen het, sal opstaan om vir altyd te lewe, en dié wat kwaad gedoen het, sal opstaan om veroordeel te word. Ek is nie daartoe in staat om enigiets uit my eie te doen nie. Soos Ek dit van die Vader hoor, oordeel Ek en my oordeel is billik omdat dit nie my wil is wat Ek najaag nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.”
“As net Ek oor Myself getuig, is my getuienis nie geldig nie. Daar is Iemand anders wat oor My getuig, en Ek weet dat die getuienis wat Hy oor My aflê, eg is. Julle het mense na Johannes toe gestuur en sy getuienis was die waarheid. Ek hou nie vas aan die getuienis van ’n mens nie, maar Ek sê dit sodat julle verlos kan word.
“Hý was die lamp wat gebrand en helder geskyn het, en julle was gewillig om julle vir ’n uur in sy lig te verbly. Ek beskik egter oor getuienis wat swaarder weeg as dié van Johannes. Die werk wat die Vader vir My gegee het om klaar te maak, dit is die werk waarmee Ek nou besig is; dit getuig ook oor My dat die Vader My gestuur het. Die Vader wat My gestuur het, dit is Hy wat oor My getuig het. Sy stem het julle nog nooit gehoor nie en sy persoon het julle ook nog nie gesien nie. En julle het nie regtig ’n greep op sy boodskap nie omdat julle nie in die Een glo wat Hy gestuur het nie. Julle bestudeer die Skrifte omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe sal kry. Dit is juis daardie Skrifte wat oor My getuig. Julle wil nietemin nie na My toe kom sodat julle die lewe kan ontvang nie.
“Ek ontvang nie eer van mense af nie, maar Ek ken julle en weet dat julle nie die liefde vir God in julle koester nie. Ek het hiernatoe gekom in die Naam van my Vader, maar julle ontvang My nie. As iemand anders in sy eie naam sou kom, sal julle daardie persoon ontvang. Hoe kan julle in My glo terwyl julle onder mekaar eer ontvang, en nie die eer soek wat van die enigste God af kom nie? Moenie dink dat dit Ek is wat julle aankla by die Vader nie. Dit is Moses, op wie julle julle hoop gevestig het, wat die aanklaer is. As julle Moses maar vertrou het, sou julle in My geglo het, want dit is oor Mý dat hy geskryf het. As julle egter nie glo in wat hy geskryf het nie, hoe sal julle ooit in my woorde glo?”