JOHANNES 5:19-30

JOHANNES 5:19-30 NLV

Jesus het daarop reageer: “Ek verseker julle, die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen. Wat die Vader ook al doen, dit doen die Seun net so. Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen; en Hy sal Hom nog groter dinge wys as hierdie sodat julle verstom sal staan. Soos die Vader die dooies opwek en weer lewend maak, só maak die Seun ook lewend wie Hy wil. Die Vader veroordeel niemand self nie; Hy het die volle oordeel aan die Seun oorgelaat. Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie. “Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en wie vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe. Ek verseker julle, daar breek ’n uur aan, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor en dié wat dit gehoorsaam, sal lewe. Soos die Vader lewe in Homself het, só het Hy dit ook aan die Seun gegee om lewe in Homself te hê. Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel omdat Hy die Seun van die Mens is. Moenie hieroor verwonderd wees nie: Daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal opstaan. Dié wat goedgedoen het, sal opstaan om vir altyd te lewe, en dié wat kwaad gedoen het, sal opstaan om veroordeel te word. Ek is nie daartoe in staat om enigiets uit my eie te doen nie. Soos Ek dit van die Vader hoor, oordeel Ek en my oordeel is billik omdat dit nie my wil is wat Ek najaag nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.”